Nuus 08:00
BULLETIN 6 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership SA sê ‘n agterstand in hofsake demp die ekonomie
# Talle lande doen ‘n beroep op hul burgers om Libanon te verlaat oor ‘n vrees vir konflik
# En Olimpiese Spele: Swede se Armand Duplantis stel ‘n nuwe wêreldrekord in paalspring op
# Business Leadership South Africa sê die vinnige afhandeling van kommersiële dispute is noodsaaklik vir besigheid, en agterstande in howe vertraag beleggings en ander handelsbesluite. Die Johannesburgse Hooggeregshof beleef ernstige agterstande en persone wat ‘n handelsgeding voer, moet waarskynlik tot minstens Augustus 2025 wag vir ʼn verhoordatum. Sommige gevalle van die Padongelukkefonds se verhoordatums is vir April 2029 geskeduleer. BLSA se uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê die oppergesag van die reg se doeltreffendheid hang van die howe af.
# Die vakverbond Cosatu het die vakbond Nehawu geloof nadat hy ʼn skikking met die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde bereik het. Nehawu het twee weke lank betoog oor ʼn nuwe betaalstruktuur wat by die buro ingestel is, asook berigte dat die uitvoerende bestuur verhogings gekry het. ʼn Cosatu-woordvoerder, Zanele Sabela, sê die ooreenkoms sal werkers bevoordeel:
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, het ʼn voorval gister by die Matshidiso Primary School in Katlehong veroordeel waar drie mans onderwysers en leerders se lewens bedreig het. Die omstrede pastoor, Paseka Motsoeneng gewapen met ʼn kapmes, en twee ander mans waarvan een ʼn vuurwapen gedra het, het die skool met geweld binnegekom. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê Motsoeneng het aangedring om twee kinders wat volgens berigte nie onder sy sorg is nie, weg te neem:
# Verskeie lande, insluitende Amerika, Brittanje, Australië, Frankryk, Kanada, Suid-Korea, Saoedi-Arabië, Japan, Turkye en Jordanië raai hulle burgers aan om Libanon te verlaat weens toenemende spanning in die Midde-Ooste. Verskeie vlugte by die lughawe in Beiroet is ook gekanselleer te midde van vrese oor konflik wat verhoog het met Hezbollah se aanvalle op Israel. Iran het onderneem om terug te slaan na die dood van die Hamas-leier, Ismail Haniyeh. Diplomatieke pogings keer steeds groter spanning met sowel Israel as Hezbollah wat aandui hulle wil groter konflik vermy.
# Olimpiese Spele: Armand Duplantis van Swede het ʼn nuwe Olimpiese rekord van 6,25-meter in Parys opgestel. Hy is die tweede man wat sy paalspring-titel suksesvol verdedig. Dis ook die negende keer dat hy die wêreldrekord verbeter nadat hy die 6,24-meter-kerf verbygesteek het wat hy in April vanjaar by die Xiamen-diamantliga opgestel het. Die Amerikaner, Sam Kendricks, het silwer gewen en Emmanouil Karalis van Griekeland brons. Duplantis sê hy kan nog nie glo wat hy bereik het nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-46-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 55-duisend-801-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-408-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….