Nuus 08:00
BULLETIN 5 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika teken twee nuwe gevalle van a-pokke aan
# Die EFF sê swak grens- en hawebeheer is verantwoordelik vir die instroom van dwelms
# En, die Britse eerste minister sê anti-immigrasiebetogings is verregse boewery
# Die Departement van Gesondheid het bevestig twee positiewe gevalle van a-pokke is in Gauteng en KwaZulu-Natal aangemeld wat die gevalle landwyd op 24 te staan bring. Drie mense is tot dusver aan die siekte dood. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê die 23ste geval is ‘n 36-jarige man van KwaZulu-Natal wat laat in Julie by ʼn staatsfasiliteit opgeneem is en nie internasionaal gereis het nie:
# Die EFF sê Suid-Afrika het as gevolg van swak grens- en hawebeheer berug geword vir dwelmhandel. ʼn Brasiliaanse dwelm-muil is Dinsdag op OR Tambo Internasionale Lughawe vasgetrek met kokaïen ter waarde van een-miljoen-rand. By ʼn padblokkade naby Stilbaai in die Wes-Kaap, is beslag gelê op kokaïen van 252-miljoen-rand. ʼn Geheime dwelmlaboratorium van twee-miljard-rand is in Limpopo gesluit. Die EFF sê die minister van Polisie, Senzo Mchunu, moet ʼn omvattende strategiese plan voorlê om onwettige dwelmvervaardiging en -invoere in die land uit te wis.
# Die burgerlike beweging Save South Africa veroordeel die uitkoms van die onlangse tugverhoor van twaalf wit leerders van die Pretoria High School for Girls, en noem dit onsinnig en op ras gebaseer. Die skoolbeheerliggaam het die leerders wat van rassisme beskuldig is, onskuldig bevind. Die woordvoerder Tebogo Mashilompane kritiseer die drie-persoon paneel oor ‘n gebrek aan objektiwiteit en sensitiwiteit, en beweer die besluit herbevestig rassediskriminasie, en ondermyn swart leerders. Hy eis deursigtigheid en ‘n volledige verslag oor die tugverhore:
# Die Britse eerste minister Keir Starmer het die landwye betogings teen immigrasie veroordeel. Gewelddadige betogings het uitgebreek in gebiede soos Tamworth, Middlesbrough, Bolton, Hull en Weymouth. Dit volg ná vals berigte dat die verdagte in die mesaanval waarin drie jong meisies verlede week dood is, ʼn asielsoeker was. Die meisies het ʼn dansklas met ʼn Taylor Swift-tema bygewoon. Minstens 150 betogers is gearresteer. Starmer het beloof die wat by die geweld betrokke was, sal met die volle mag van die reg te doen kry:
# Olimpiese Spele: Die Amerikaner Scottie Scheffler het in Parys ʼn laaste ronde van nege-onder 62 aangeteken om die goue medalje in die eindronde van die gholf vir mans op te raap. Die wêreld se nommer een het vanjaar reeds ses keer op die PGA Toer gewen wat sy tweede Meesters-titel insluit. Die Brit, Tommy Fleetwood, het silwer gewen en Hideki Matsuyama van Japan brons. Die Suid-Afrikaners Christiaan Bezuidenhout en Erik van Rooyen is onderskeidelik 16de en 17de.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-33-sent teen die dollar, 20-rand-4-sent teen die euro en 23-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 54-duisend-90-dollar-82-sent. Die prys van goud is twee-duisend-443-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….