Nuus 08:00
BULLETIN 4 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC-NUK is optimisties oor ‘n stewige herstelplan na sy Boksburg-vergadering
# Die NVG bevestig samesprekings met die Verenigde Arabiese Emirate oor die uitlewering van die Gupta’s is hervat
# En, Olimpiese Spele: Suid Afrika se naelloopkonings Simbine, Maswanganyi en Richardson is almal deur na die 100-meter halfeindstryd
# Die Nasionale Uitvoerende Komitee van die ANC het volle vertroue in ‘n stewige herstelplan na die afhandeling van sy vergadering in Boksburg. Die waarnemende woordvoerder Zuko Godlimpi sê die finale verslag, wat ‘n verkiesingsontledingsverslag insluit, sal ontwikkelings na die verkiesing dek, asook die president se politieke oorsig. Hy beklemtoon die belangrikheid van nasionale dialoog oor hoe die party gesamentlik kwessies in Suid-Afrika moet hanteer:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het bevestig die Departement van Justisie het samesprekings hervat met die Verenigde Arabiese Emirate oor die uitlewering van Rajesh en Atul Gupta, wat gesoek word vir beweerde korrupsie en geldwassery. Die broers se sakeryk het gestrek oor mynbou, die media en tegnologie, met sterk bande met die voormalige president Jacob Zuma. Die woordvoerder van die gesag Mthunzi Mhaga het aan eNCA gesê hulle hoop die emirate sal Suid-Afrika se uitleweringsversoeke steun:
# Donald Trump het ingestem tot ‘n debat met Kamala Harris. Hy het vroeër gesê hy sal nie ‘n debat voer met die huidige visepresident nie omdat sy nie die amptelike kandidaat is nie. Sy het egter nou genoeg stemme van Demokratiese afgevaardigdes gekry om haar party se amptelike kandidaat te wees, hoewel die aanlynstemproses eers Maandag eindig. Niks is nog gefinaliseer nie, maar die debat sal glo op 4 September aangebied word deur Fox News op ‘n plek waaroor nog besluit moet word. Bret Baier en Martha MacCallum sal die moderators wees.
# Olimpiese Spele: Suid-Afrika se naelloopkonings Akani Simbine, Shawn Maswanganyi en Benjamin Richardson is almal deur na die 100-meter halfeindstryd. Simbine het die sesde uitdun gewen in 10,03-sekondes, terwyl Maswanganyi derde was in die derde uitdun met ‘n tyd van 10,06. Richardson het vierde geëindig in die vyfde uitdun, maar sy tyd van 10,06 was die vinnigste van al die atlete wat nie ‘n plek oopgehardloop het nie, en hy kwalifiseer dus ook vir die halfeindstryd. Die wedren vind vanaand 5 oor 8 plaas, met die eindstryd om 10 voor 10.
# En, Suid-Afrikaanse Nasionale Parke het die begin van die 2024-lenteblommeseisoen van nou af tot 30 September in die Weskus Nasionale Park aangekondig. SANParke sê die Postbergdeel van die park is oop vir besoekers vir asemrowende blommeprag. Daarby is kosvragmotors beskikbaar omdat die Geelbek-restaurant opgeknap word. Bewarings-toegangsfooie is van toepassing en nuwe gidse en pamflette is ook te koop. Die spesiale Lenteblombrosjure word by die Potsberg-ingangshek verkoop en is ‘n uitstekende bron om die blomme in die park uit te ken en meer daaroor te leer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….