Nuus 08:00
BULLETIN 3 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC se verkiesingskomitee blameer ‘n afname in kiesers en dienslewering vir sy agteruitgang
# ‘n Onderwyskenner verwelkom die uitspraak vir Pretoria High School for Girls
# En, rugby: Ses verskillende skeidsregters vir die Springbokke in die Rugbykampioenskap
# Die verkiesingskomitee van die ANC skryf die party se afname in steun toe aan die lae kieserstal, swak plaaslike dienslewering en ‘n gebrek aan aanspreekliheid. Die nasionale uitvoerende komitee het op ‘n vergadering in Ekurhuleni die faktore ondersoek en strategieë ontwikkel om die behoeftes van kiesers beter te verstaan. Die adjunksekretaris-generaal Nomvula Mokonyane sê hulle soek maniere om die behoeftes van Suid-Afrikaanse kiesers beter te begryp om verdere afname te keer:
# Die onderwysaktivis, Hendrick Makaneta, verwelkom die besluit om twaalf leerders van Pretoria High School for Girls onskuldig te bevind. Makaneta glo die uitspraak bied ‘n geleentheid vir oop dialoog oor ras en rassisme. Hy benadruk die behoefte om alle leerders te verenig en om ‘n nie-rassige samelewing te skep. Makaneta stel ‘n eksterne bemiddelaar voor om hierdie belangrike gesprekke te bemiddel:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christenforum kritiseer die regering vir sy hantering van die voorsiening van basiese dienste. Dit volg nadat City Power die krag in verskeie informele nedersettings in Johannesburg afgesny het. Die organisasie beweer die regering verwaarloos die armes, verewig ongelykheid en misluk om voldoende wettige verbindings te verskaf. Die leier van die forum, Marori Mashashane, beskuldig die regering dat hy ongeregtighede uit die apartheidsera teenoor agtergeblewenes voortsit:
# Die Amerikaanse minister van Verdediging Lloyd Austin het ‘n pleitooreenkoms herroep wat die mans wat beskuldig word van die sameswering oor die 11 September-aanvalle doodstraf sou laat vryspring. Aanklaers het Woensdag aangekondig hulle het ‘n ooreenkoms bereik met Khalid Sheikh Mohammed, Walid bin Attash en Mustafa al-Hawsawi om skuldig te pleit op aanklagte van sameswering. Austin het egter Susan Escallier, wat toesig hou oor die Guantanamo-oorlogshof, haar gesag ontneem om voorverhoor-ooreenkomste in die saak aan te gaan en dit heringestel as doodstrafsake. Mohammed word beskou as die hooffiguur agter die aanvalle van 11 September 2001.
# En, rugby: Ses verskillende skeidsregters gaan die fluitjie hanteer in die Springbokke se Rugbykampioenskap-wedstryde. Luke Pearce blaas in die openingswedstryd volgende Saterdag teen Australië, met Paul Williams van Nieu-Seeland die skeidsregter in Perth. Andrew Brace van Ierland en Matt Carley van Engeland beheer die twee agtereenvolgende toetswedstryde teen Nieu-Seeland in Johannesburg en Kaapstad. Hollie Davidson van Skotland maak geskiedenis as die eerste vroulike wedstrydbeampte in die kompetisie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….