Nuus 08:00
BULLETIN 1 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê dit is noodsaaklik om Suid-Afrika se elektrisiteitsprys-beleid te hersien
# Netanyahu sê Israel sal enige wraakaanvalle vergeld
# En, Olimpiese Spele: Djokovic maak geskiedenis toe hy deurdring na die kwarteindronde
# Die DA verwelkom planne om Suid-Afrika se beleid oor elektrisiteitspryse te hersien. Die minister van Energie en Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, het vroeër die week aangekondig dit word hersien om die toenemende bekostigbaarheidskrisis aan te spreek wat toegang tot elektrisiteit vir arm verbruikers bemoeilik. Die DA sê ‘n nuwe elektrisiteitsprys-beleid sal net suksesvol wees as Eskom as sakeonderneming bedryf word, as meer onafhanklike kragverskaffers aan boord kom en munisipaliteite hulle eie krag mag opwek.
# Die munisipale vakbond, Samwu, sê die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging moet met ‘n hersiene salarisaanbod na die onderhandelingstafel terugkeer wat werklik tot voordeel van munisipale werkers is. Die vakbond het Salga se 3,75-persent verhoging verwerp en eis agt-persent. Die vereniging verteenwoordig die land se munisipaliteite. Die derde ronde van onderhandelings is vir die 12de tot die 16de van die maand geskeduleer. Dumisane Magagula van SAMWU sê werkers is bereid om kollektiewe bedinging te verdedig en die strewe na ‘n leefbare loon:
# Die Gautengse polisie sê hulle het op 300-miljoen-rand se dwelms in Fourways, noord van Johannesburg beslag gelê en ‘n ontvoerde sakeman gered. Agt ontvoerders, insluitend drie Tanzaniërs, is ook gearresteer. Die sakeman is glo op vyf Julie by ‘n moskee in Helderkruin, Roodepoort ontvoer. ‘n Polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe sê die man is by ‘n huis in Lenasia gered:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, het die weermag geloof vir sy aanval in Beirut waarin die senior Hisbolla-bevelvoerder, Fu’ad Shukr, dood is. Israel sê hy is een van die wêreld se mees gesoekte terroriste. Vier ander, insluitend twee kinders, is in die aanval dood. Israel sê dit was in reaksie op Saterdag se vuurpylaanval in die Golan-hoogte waarin 12 mense, meesal kinders, dood is en wat Shukr help beplan het. Netanyahu sê die oorlog in Gaza sal voortgaan en Israel sal onverbiddelik optree teen enige wraakaanvalle.
# Olimpiese Spele: Novak Djokovic van Serwië het die eerste tennisspeler geword om vier Olimpiese Spele-kwarteindrondes te haal. Die 24-malige Grand Slam-kampioen het Dominik Koepfer van Duitsland met 7-5, 6-3 in Parys geklop in sy veldtog om sy eerste Olimpiese goue in te palm. Die Spanjaard Carlos Alcaraz het gemaklik met Roman Safiullin van Rusland met 6-4, 6-2 afgereken en kom nou in die kwarteindronde teen die Amerikaner Tommy Paul te staan. Alexander Zverev van Duitsland, Stefanos Tstitsipas van Griekeland en die Kanadees Felix Auger-Aliassime is ook deur na die kwarteindronde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 19-rand-74-sent teen die euro en 23-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-23-dollar-29-sent. Die prys van goud is twee-duisend-443-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….