Nuus 08:00
BULLETIN 31 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die president van die Reserwebank sê die gryslys hou ‘n risiko in vir finansiële bestendigheid
# Judges Matter glo Hlophe sal homself onttrek aan sekere Regterlike Dienskommissie-onderhoude
# En die waarnemende direkteur van die Amerikaanse Geheimediens is skaam oor hul sekerheidsmislukking
# Die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Lesetja Kganyago sê die feit dat Suid-Afrika op die gryslys van die Finansiële Aksietaakspan is, hou steeds ‘n gevaar in vir die land se ekonomiese vooruitsig en finansiële bestendigheid. Suid-Afrika is ‘n jaar gelede op die gryslys geplaas weens die regering se mislukking om internasionale standaarde en regulasies teen geldwassery en terrorisme-befondsing af te dwing. Kganyago sê die regering het in ‘n groot mate agt van die 22 aksie items wat die taakmag geïdentifiseer het aangespreek:
# Judges Matter sê die afgedankte regter John Hlophe sal homself waarskynlik onttrek aan die Regterlike Dienskommissie se verhore vir ‘n Wes-Kaapse regterpresident wat in Oktober plaasvind. Sy vorige adjunk, Patricia Goliath, is een van die kandidate. Sy het in 2020 ʼn klag by die dienskommissie ingedien en Hlophe beskuldig van rassisme, verbale mishandeling en aanranding op ʼn kollega. Hlophe het Goliath in reaksie daarop van rassisme beskuldig. Judges Matter sê Hlophe het ʼn geskiedenis met al die kandidate vir die amp van regterpresident.
# Die EFF in Tshwane het die skoolhoof van Pretoria High School for Girls se skorsing te midde van verlede week se rassebewerings verwelkom. Twaalf leerders is geskors na bewerings oor mikro-rasse-aggressie op ʼn WhatsApp-groep waarop net wit meisies is. Die EFF sê die hoof se skorsing is ʼn stap om sistemiese rassisme en onregmatighede in die skool aan te spreek.
# Die waarnemende direkteur van die Amerikaanse Geheimediens, Ronald Rowe Junior, sê hy is skaam oor die mislukte sekerheid voor die sluipmoordpoging op oudpresident Donald Trump. Een man is doodgeskiet en twee ander beseer toe die 20-jarige Thomas Crooks tydens ʼn saamtrek in Pennsilvanië op Trump geskiet en in sy oor gewond het. Rowe het aan ʼn kongresverhoor gesê een van die tekortkominge was dat hulle weens verbindingsprobleme nie ʼn onbemande teen-lugstelsel voor die saamtrek kon ontplooi nie:
# Olimpiese Spele: Die Britse tennisspelers, Andy Murray en Dan Evans, is deur na die kwarteindronde van die mans se dubbelspel in Parys. Hulle het twee wedstrydpunte afgeweer om Sander Gille en Joran Vliegen van België met 6-3, 6-7, 11-9 te klop. Murray gaan ná die Spele sy roemryke tennisloopbaan vaarwel roep. Die Spaanse paar, Rafael Nadal en Carlos Alcaraz, is ook deur na die kwarteindronde nadat hulle die Nederlanders, Tallon Griekspoor en Wesley Koolhof, met 6-4, 6-7, 10-2 verslaan het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-31-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66duisend-29-dollar-23-sent. Die prys van goud is twee-duisend-406-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….