Nuus 08:00
BULLETIN 30 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ’n ANC NUK-lid sê Zuma het het die party ernstige skade berokken
# Die Parlement verwelkom die hofuitspraak oor die EFF se saak oor parlementêre reëls
# En rugby: SA Rugby doen proaktiewe stappe om die Blitsbokke te verbeter
# ‘n Lid van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee, Zuko Godlimpi, sê die gewese president Jacob Zuma het die party ernstige skade berokken. Zuma is uit die ANC geskop nadat die ANC se nasionale tugkomitee hom skuldig bevind het aan die oortreding van Artikel 25 van die party se grondwet. Dit hou verband met sy opmerking in Desember dat hy hom vir die MK-party gaan beywer en stem. Godlimpi het aan Newzroom Afrika, gesê die ANC moet nou strukture op die grond begin herbou:
# Die Parlement het die Wes-Kaapse Hooggeregshof se onlangse uitspraak verwelkom toe die EFF se uitdaging van parlementêre reëls oor skorsing verwerp is. Ses EFF-lede waaronder die leier Julius Malema is aangekla van wangedrag en minagting van die Parlement nadat hulle verlede jaar op die verhoog geklim het tydens president Cyril Ramaphosa se staatsrede. Hulle is onder meer verbied om in Februarie vanjaar aan parlementêre aktiwiteite deel te neem. Die Parlement sê hy bly verbind om seker te maak parlementêre prosesse word nie deur onwaardige gedrag ontwrig nie.
# Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, sê bewerings dat die aanstelling van Arnold Lesiba Malotana as hoof van die provinsiale Gesondheidsdepartement geheim gehou is, is ongegrond en kwaadwillig. Die DA het aan die Openbare Beskermer geskryf en ‘n dringende ondersoek aangevra na wat hy beskryf as Malotana se verdagte aanstelling. Die premier se woordvoerder, Sizwe Pamla, sê die provinsiale regering het al die staat se vereiste werwing- en keuringsprosesse nagekom voor Malotana aangestel is:
# Betogings het gister in verskeie stede in Venezuela uitgebreek, ʼn dag nadat die outoritêre leier Nicolás Maduro herverkies is. Die presidensiële wedloop is ontsier deur beskuldigings van verkiesingsbedrog, insluitend dat opposisie-getuies toegang tot die Nasionale Verkiesingsraad se hoofkwartier geweier is terwyl stemme getel word. Die opposisie het Maduro se oorwinningsverklaring as bedrieglik beskryf en sê sy kandidaat, Edmundo González, het oortuigend met 73,2-persent van die stemme gewen. Betogers sê die regering moet val, want hulle soek vryheid.
# Rugby: SA Rugby se president, Mark Alexander, sê hulle tree proaktief op om die Springbok-sewes te ondersteun en te verbeter vir verdere Olimpiese pogings. Die Blitsbokke het Australië met 26-19 afgeransel om die bronsmedalje te wen by die Spele in Parys. Alexander sê die span was buiteperde, maar het veerkragtigheid en veggees getoon:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 23-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-567-dollar-51-sent. Die prys van goud is twee-duisend-384-dollar per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….