Nuus 08:00
BULLETIN 5 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC sal nie inmeng met die SAKP se besluit om onafhanklik aan die plaaslike regeringsverkiesing deel te neem nie
# Meer as 500 onwettige mynwerkers is by die Sheba-myn in Barberton in hegtenis geneem
# En ‘n Brasiliaanse hof plaas voormalige president Bolsonaro onder huisarres
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa sê die Nasionale Uitvoerende Komitee stem nie saam met die SAKP se besluit om onafhanklik aan die komende plaaslike verkiesing deel te neem nie. Die SAKP was tot dusver ‘n ANC-bondgenoot in die drieparty-alliansie wat Cosatu insluit. Hoewel SAKP-lede in verkiesings as ANC-kandidate gestaan het, het die party nog nooit onder sy eie vaandel aan ʼn verkiesing deelgeneem nie. Ramaphosa sê ten spyte van kommer, sal die NUK nie by die SAKP se besluit inmeng nie:
# Die Activists and Citizens Forum sê hulle sal ‘n massa-versetoptrede mobiliseer indien die ANC en president Cyril Ramaphosa probeer om die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi te verwyder. Hulle waarsku enige poging om die hernuwing van Mkhwanazi se kontrak te blokkeer, sal wydverspreide betogings veroorsaak. Dennis Bloem van die forum beskuldig die ANC dat hulle anti-korrupsiepogings teiken uit vrees vir Mkhwanazi se stryd teen misdaadsindikate wat met van die politici verband word:
# Polisie in Mpumalanga sê nog onwettige mynwerkers sal na verwagting by die Sheba-myn in Barberton gearresteer word. Gister is nog 24 vasgetrek wat die getal sedert Vrydag op 518 te staan bring. Aanklagte teen hulle sluit in besit van gouddraende materiaal, oortreding van die Immigrasiewet en betreding. Owerhede beraam dat meer as ʼn duisend onwettige mynwerkers ondergronds bedrywig is. ʼn Polisiewoordvoerder, Donald Mdhluli, sê een van die verdagtes was in besit van ʼn vuurwapen:
# Die Brasiliaanse Hooggeregshof het opdrag gegee dat die voormalige regse president, Jair Bolsonaro, onder huisarres geplaas word nadat hy nie weerhoudingsbevele nagekom het nie. Hy het ʼn verbod op die gebruik van sosiale media oortree wat verlede maand opgelê is, toe hy ook beveel is om ʼn elektroniese enkelband te dra. Bolsonaro is tans in die hof oor ʼn beweerde komplot om die uitslag van die 2022-presidentsverkiesing wat president Luiz Inácio Lula da Silva gewen het, om te keer. Indien hy skuldig bevind word, kan hy meer as 40 jaar tronk toe gaan.
# Rugby: Die Britse en Ierse Leeus se haker, Dan Sheehan, is vir vier wedstryde geskors ná ʼn gevaarlike beweging in Saterdag se derde toets in Sydney. Die Ier het in ʼn los gemaal ingestorm en die Australiese losskakel, Tom Lynagh, teen die kop getref. Wêreldrugby se onafhanklike hersieningskomitee beskou Sheehan se optrede as roekeloos. Die straf sal tot drie wedstryde verminder word as hy ʼn afrigting-ingrypingskursus voltooi. Sheehan is nie beskikbaar vir Leinster se voorseisoenwedstryd teen Cardiff, en die Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryde teen die Stormers en die Sharks nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-72-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-336-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-373-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….