Nuus 08:00
BULLETIN 21 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC steun Ramaphosa se drie strategiese voorkeure
# Die minister van Polisie besoek Hanover Park en Gqeberha oor misdaad
# En, rugby: Mapimpi spog met ‘n driekuns in die Springbokke se 64-21 sege oor Portugal
# Die ANC verwelkom die drie strategiese prioriteite vir Suid-Afrika, wat president Cyril Ramaphosa in die Parlement uiteengesit het. Die fokuspunte is die aanvuur van inklusiewe groei en werkskepping; die vermindering van armoede en die bekamping van die hoë lewenskoste, en die bou van ‘n vaardige, etiese en ontwikkelende staat. Die sekretaris-generaal van die ANC Fikile Mbalula sê die voorkeure sal die sleuteluitdagings pak waarmee Suid-Afrikaners te doen het:
# Die minister van Polisie Senzo Mchunu het gister die hoëmisdaadgebied Hanover Park in Kaapstad besoek om veiligheidskommer aan te spreek . Mchunu het belanghebbers ontmoet en ‘n nuwe misdaadbestrydingsinisiatief onthul, gemik teen dwelms en bendegeweld in die Wes-Kaap. Inwoners het hulle ontevredenheid uitgespreek oor die huidige optrede van die polisie en gevra vir meer doeltreffende maatreëls. Mchunu stuur vandag ‘n nuwe misdaadvoorkomingsprogram van stapel in Gqeberha in die Oos-Kaap, as deel van ‘n breër poging om misdaad regoor die land te bestry.
# Die Departement van Gesondheid van Gauteng sê die uitkenning van die Marshalltownbrandslagoffers behoort na die SAPD verwys te word. Volgens die woordvoerder Motalatale Modiba het die departement talle navrae oor die proses ontvang. Hy sê die Gautengse Forensiese Patologiediens het nadoodse ondersoeke voltooi, maar die DNS-verwerking en -ontleding word hanteer deur die SAPD se Forensiese Wetenskaplike Laboratorium en Slagofferuitkenningsentrum:
# Die regering van Bangladesj het ‘n landwye aandklokreël ingestel nadat verlede week se botsings tussen studentebetogers en die polisie minstens 105 lewens geëis het. Militêre magte is ook ontplooi nadat die polisie nie die dodelike opstand wat regoor die land uitgebrei het, onder beheer kon kry nie. Die onluste het aanvanklik uitgebars oor kwotas wat 30-persent van die staatsdiensposte uithou vir die families van die mense wat geveg het vir onafhanklikheid van Pakistan. Dit is aangevuur deur hoë werkloosheid onder jongmense wat byna ‘n vyfde uitmaak van die bevolking van 170-miljoen.
# En, rugby: Die veteraan Springbokvleuel Makazole Mapimpi het ‘n driekuns behaal as deel van sy span se tien drieë teen ‘n dapper Portugal vir ‘n 64-21 oorwinning in ‘n eenmalige toets gisteraand in Bloemfontein. Suid-Afrika se drieë is gedruk deur Jan-Hendrik Wessels, Phepsi Buthelezi, Kurt-Lee Arendse, Ben-Jason Dixon, Lukhanyo Am, Quan Horn, Andre-Hugo Venter, sowel as Mapimpi se driekuns. Manie Libbok het twee van die drieë verdoel en Sacha Feinberg-Mngomezulu, vyf. Vir Portugal was daar twee drieë deur Jose Paiva dos Santos, een deur Jose Madeira, en verdoelings deur Domingos Cabral en Joris Moura.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….