Nuus 08:00
BULLETIN 4 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Steenhuisen gryp in by die Suid-Afrikaanse Veeartsenykundige Raad
# Die Grensbestuursowerheid stel nuwe sekerheidsmaatreëls op paspoorte in
# En meer as 60 Ethiopiese migrante is dood en tientalle word vermis nadat ‘n boot naby Jemen omslaan
# Die Landbouminister John Steenhuisen het ‘n volledige verslag aangevra oor die onlangse verkiesingsproses van die Suid-Afrikaanse Veeartsenykundige Raad. Dit volg nadat kommer uitgespreek is oor die proses se deursigtigheid en prosedurele integriteit. Die ministerie se woordvoerder, Joylene van Wyk, sê dit sluit teenstrydige kommunikasie aan geregistreerde veeartse in oor stemdatums, die bevoegdheid van sekere kandidate en die regverdigheid en onafhanklikheid van die verifiëringsproses:
# Die kommissaris van die Grensbestuursowerheid, Michael Masiapato, sê die owerheid het nuwe sekerheidstempels by Suid-Afrika se grensposte in gebruik geneem. Hy sê die owerheid het in die afgelope paar maande op wydverspreide bedrog afgekom waar die ou stempels gebruik is om mense onwettig toegang te gee op hul paspoorte. Die kommissaris sê hierdie inisiatief vorm deel van die owerheid se breër verbintenis tot die ondersteuning van nasionale veiligheid en die grensbestuur-ekosisteem is geraadpleeg oor die verandering:
# Die KwaZulu-Natalse afvaardiging by die Nasionale Raad van Provinsies vergader vandag met die provinsiale polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi. Dit volg na Mkhwanazi se bewerings dat misdaadsindikate die hoogste regeringsvlakke geïnfiltreer het. Hy beskuldig ook die minister van Polisie, Senzo Mchunu wat op spesiale verlof geplaas is, van korrupsie. Die afvaardiging se leier, Mzamo Billy, het aan Newzroom Afrika gesê die ontmoeting sal fokus op die identifisering van belangrike gebiede van samewerking tussen die Parlement en die Suid-Afrikaanse Polisiediens in die provinsie:
# Agt-en-sestig Ethiopiese migrante is dood en 74 word vermis nadat ʼn boot gister aan die kus van Jemen gesink het. Volgens die Internasionale Organisasie vir Migrasie was 154 migrante aan boord. Hiervan het 54 liggame in die Khanfar-distrik uitgespoel terwyl 14 ander dood gevind en na ʼn lykshuis geneem is. Slegs 12 het die voorval oorleef terwyl die res vermis word en vermoedelik dood is. Plaaslike owerhede sê ʼn massiewe soek-en-reddingspoging is aan die gang. Meer as 60-duisend vlugtelinge en migrante het in 2024 in Jemen aangekom.
# Krieket: Engeland het in hul tweede beurt teen uitskeityd 339 vir ses gehad op dag vier van die vyfde en laaste toets teen Indië op die Oval, en kort 35 lopies vir ʼn reeksoorwinning. Die besoekers het vier paaltjies nodig om die reeks onbeslis te laat eindig. Harry Brook en Joe Root het 195 lopies op die vierde paaltjie aangeteken en Engeland naby die wenteiken gebring. Prasidh Krishna het in die laaste sessie vinnig twee paaltjies platgetrek om Indië se kanse lewend te hou nadat hulle weens reën ʼn uur vroeër moes ophou speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-3-sent teen die dollar, 20-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-658-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-356-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….