Nuus 08:00
BULLETIN 13 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# COSATU eis die vervolging van persone betrek by VBS-plundery
# Gebeurlikheidsplanne is ingestel vir oorstroomde gesondheidsorggeriewe in Wes-Kaap
# En, rugby: Curriebeker-oorwinnings vir die Leeus en Griekwas
# COSATU sê hy is onthuts deur openbarings in ‘n uitgelekte eedsverklaring deur die voormalige voorsitter van VBS Mutual Bank, Tshifhiwa Matodzi, wat hooggeplaaste politici betrek. Hy is tot 15-jaar tronkstraf gevonnis nadat hy ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het. Matodzi het skuldig gepleit op 33 aanklagte van diefstal, bedrog, geldwassery en rampokkery wat verband hou met die diefstal van meer as 1,9-miljard-rand uit VBS-bankrekenings. COSATU vra owerhede om diegene wat betrokke was te vervolg, ongeag hulle posisies.
# Die verpleegorganisasie Denosa sê gebeurlikheidsplanne is blitsig ingestel in gesondheidsorg-geriewe in die Wes-Kaap na erge oorstromings. Dit sluit personeel-ontplooiing in, en die voorsiening van spesiale verlof vir personeel wat geraak word. Verskeie klinieke en hospitale, veral in laagliggende dele soos in die Kaapstadse metro en die Paarl, is gedwing om te sluit omdat hulle oorval is. Denosa se sekretaris, Sabelo Ntshanga, sê die Groote Schuur-hospitaal reël verblyf vir noodsaaklike personeel:
# Data van die Pietermaritzburgse Ekonomiese Geregtigheid- en Waardigheidsgroep toon die 2024-minimumloon voorsien nie aan basiese behoeftes nie. Die groep stel voor ‘n minimum van 40-rand per uur is nodig. Ondanks ‘n verhoging van 8,5-persent in Maart, wat die loon opgeskuif het na 27-rand-58-sent per uur, het die groepsdirekteur Mervyn Abrahams aan Newzroom Afrika gesê dit vang werkers vas in armoede. Hy sê die huidige loon steun nie ‘n waardige huishouding nie en dwing families om staat te maak op lenings:
# Rugby: Die Leeus het die Pumas gisteraand in Bombela met 75-21 afgeransel en Tapiwa Mafura het ‘n driekuns met drieë in hulle Curriebeker-kragmeting behaal. Die nuweling Sam Francis het 30 punte bygedra met agt doelskoppe, drie strafskoppe en ‘n drie. In Kimberley het ‘n astrante Griekwaspan die Haaie, gelaai met talle Springbokke, in ‘n riller met 34-31 ore aangesit. In vandag se enigste wedstryd verwelkom die Cheetahs die Westelike Provinsie in Bloemfontein voor vanmiddag se groot toetsstryd tussen die Springbokke en Ierland in Durban. Môre pak die Blou Bulle die Griffons in Welkom.
# En, doeke vir volwassenes verkoop nou meer as babadoeke in Japan, met die geboortesyfer wat daal en die gemeenskap wat verouder. Met 29-persent van die bevolking ouer as 65, word geskat die mark vir volwassene-doeke sal teen 2027 met 16-persent groei tot meer as 10,7-miljard-rand, terwyl babadoeke met agt-persent sal krimp tot 9,5-miljard-rand. Die doekemaatskappy, Oji Holdings, gaan nie meer babadoeke verkoop nie en Daio Paper sê hy het die vervaardiging van doeke vir volwassenes opgestoot, hoewel hy steeds babadoeke vervaardig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….