Nuus 08:00
BULLETIN 12 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê Suid-Afrika sal voortgaan om die regte van die Palestyne in Gaza te beskerm
# Intercape wen sy vyfde hofstryd teen die regering
# En tennis: Wimbledon gaan ‘n nuwe vroue-enkelspelkampioen oplewer
# Die Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika sal voortgaan om in wêreld-instellings die regte van Palestyne in Gaza te beskerm en seker te maak internasionale reg word regverdig toegepas. Suid-Afrika het Israel voor die Internasionale Geregshof gedaag en beweer die land pleeg volksmoord teen Palestyne in Gaza. Lamola sê die regering sal voortgaan om vir die saak voor te berei en dit te hanteer:
# Die GOOD-party sê die regering van nasionale eenheid se Kabinet-lekgotla wat die naweek plaasvind, moet voorkeur gee aan maatskaplike sekerheid vir armes. Elf politieke partye vergader om beleidsrigtings vir die volgende vyf jaar te bespreek. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die regering se vermoë om toestande vir ekonomiese groei te skep terwyl hy sukkelende Suid-Afrikaners van sy ondersteuning verseker, sal ‘n belangrike bepaler wees van die rigting wat die land sal inslaan:
# Interkaap het sy vyfde hofstryd gewen, wat die regering en die polisie dwing om langafstandbusbestuurders en -passasiers teen geweld te beskerm. Die Hooggeregshof in die Oos-Kaap het die polisie en ministers van Vervoer toestemming tot appèl geweier en hulle beveel om beskermingsmaatreëls te tref. Die uitvoerende hoof van Interkaap Johann Ferreira verwelkom die uitspraak en moedig die regering van nasionale eenheid aan om aan die bevel te voldoen en teenstand teen die beveiliging van landsburgers te staak. Interkaap is sedert 2015 blootgestel aan aanvalle deur taxiverenigings.
# Die minister van Menslike Nedersettings, Mmamoloko Kubayi, het Kaapstad se versoek dat noodbefondsing na plaaslike regerings afgewentel word, verwerp. Dit terwyl die Wes-Kaap deur reën en sterk wind geteister word. Sewe-en-dertig gebiede wat Khayelitsha, Gugulethu, Tafelsig en Ocean View insluit, is die swaarste getref. Kubayi, wat gister ʼn afvaardiging na die Kaapse Vlakte gelei het, sê die nasionale regering het verantwoordelikheid vir noodbefondsing weens swak prestasie van munisipaliteite en die provinsiale regering weggeneem.
# Tennis: Jasmine Paolini van Italië en Barbora Krejcikova van die Tsjeggiese Republiek spook môre sake uit in die Wimbledon-eindstryd. Die sewende gekeurde Paolini was een stel agter, maar het teruggeveg en Donna Vekic van Kroasië in twee ure en 51 minute met 2-6, 6-4, 7-6 geklop. Dis die langste vroue-enkelspel-halfeindwedstryd in Wimbledon se geskiedenis. Krejcikova het die 2022-kampioen, Elena Rybakina van Kasakstan, met 3-6, 6-3, 6-4 geklop. Paolini is die eerste Italiaanse vrou wat ʼn Wimbledon-eindstryd haal en sê sy bly gefokus ondanks haar onlangse suksesse:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-99-sent teen die dollar, 19-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-921-dollar-29-sent. Die prys van goud is twee-duisend-408-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….