Nuus 08:00
BULLETIN 8 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom gaan ‘n jaarlikse verlies van 15-miljard-rand toon
# Frankryk gaan ’n Parlement sonder ’n volstrekte meerderheid kry
# En krieket: Die tweede vroue-T20 tussen Suid-Afrika en Indië het uitgereën
# Eskom se uitvoerende hoof, Dan Marokane, sê ‘n einde aan beurtkrag sal beteken dat die kragverskaffer volgende jaar ʼn wins kan toon. Eskom staar volgens berigte ʼn jaarlikse verlies van 15-miljard-rand in die gesig, wat grootliks toegeskryf word aan dieselaankope van 33-miljard-rand. Die kragverskaffer het 100 dae sonder beurtkrag gehad weens sy multidimensionele opwekkingsherstelplan. Marokane sê hulle gebruik minder diesel en indien hulle dit kan volhou, sal daar vanjaar ʼn aansienlike finansiële verbetering wees.
# Die DA eis dat Energie-minister, Kgosientsho Ramokgopa, onmiddellik die ministeriële bepaling om nuwe kernkrag te bekom, hersien. Volgens berigte beplan die ministerie om binnekort goedkeuring te kry vir befondsing om ʼn kernkrag-aanleg van twee-duisend-500 megawatt te bou. Die voorgestelde aanleg sal groter wees as die Koeberg-aanleg noord van Kaapstad. ʼn DA-woordvoerder, Kevin Mileham, sê die minister moet die regte stappe doen om die nie-nakoming van kernkrag-aankope reg te stel:
# Die Portugese Forum is bekommerd oor die toename in ontvoerings van Portugese sake-eienaars vir ‘n losprys. Die polisie het verlede week twee sake-eienaars in Johannesburg gered. Vyf beweerde ontvoerders is aangehou na die vrylating van die tweede sakeman uit die Nancefield-hostel. Die voorsitter van die forum, Manny Ferreirinha, het aan die SABC gesê die voorvalle traumatiseer die slagoffers en hulle families. Hy vra die ontvoerings moet end kry:
# Peilings toon Frankryk se linksgesinde alliansie, New Popular Front, is op pad na oorwinning in die tweede ronde van die blitsverkiesing. Dit beteken die land kan moontlik ʼn parlement kry waar geen party ʼn volstrekte meerderheid het nie. Die New Popular Front het 182 setels gewen, terwyl president Emmanuel Macron se sentrale Ensemble-alliansie 163 setels gekry het. Die vêrregse National Rally, wat in die eerste ronde ʼn sterk voorsprong gehad het, het 143 setels. Eerste minister Gabriel Attal sê hy sal bedank as kiesers die vooruitsig van ʼn vêrlinkse of vêrregse regering verwerp.
# Krieket: Die tweede van drie Vroue-T20-wedstryde tussen Suid-Afrika en Indië in Chennai is halfpad weens reën gestaak. Tazmin Brits het haar tweede agtereenvolgende vyftigtal behaal en bygedra tot Suid-Afrika se 177 vir ses in hulle 20 boulbeurte. Reën het Indië se beurt vertraag en die wedstryd is uiteindelik gestaak. Die besoekers is steeds een-nul voor in die reeks nadat hulle die eerste wedstryd met 12 lopies gewen het. Die derde en laaste kragmeting vind môre op dieselfde veld plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 54-duisend-998-dollar-3-sent. Die prys van goud is twee-duisend-383-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….