Nuus 08:00
BULLETIN 2 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership SA sê die nuwe Kabinet moet nasionale belang eerste stel
# Die DA in Gauteng kritiseer die ANC oor bewerings dat daar te kwader trou onderhandel word
# En tennis: Lloyd Harris, Alcaraz en Sinner is deur na die tweede ronde by Wimbledon
# Business Leadership South Africa sê die nuwe Kabinet se sukses onder die regering van nasionale eenheid sal afhang van die ooreenkomste wat tussen politieke partye bereik word. Die organisasie se uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê hoe stewiger die grondslag is waar alle partye hul rolle en verantwoordelikhede verstaan, hoe meer stabiel en doeltreffend sal die koalisieregering wees. Sy sê kabinetsministers het ‘n groot verantwoordelikheid om nasionale belang eerste te stel, en aksie en lewering moet duidelik wees.
OUTA bevraagteken intussen sommige kabinetsaanstellings en vra groter deursigtigheid van nuwe ministers. Uitvoerende hoof, Wayne Duvenhage, bepleit groter raadpleging met die burgerlike samelewing asook beter dienslewering. Duvenhage is krities oor die groter kabinet en die behoud van ministers wat onderpresteer en glo die opgeblase kabinet gaan die publiek se sakke ruk. Hy benadruk ook die noodsaaklikheid om vermorste uitgawes aan te spreek asook wanadministrasie en korrupsie:
# Die DA se Gautengse leier, Solly Msimanga, kritiseer die ANC wat die party beskuldig dat hy te kwader trou onderhandel. Premier Panyaza Lesufi se aankondiging van sy provinsiale Kabinet van tien lede het gisteraand ontspoor nadat ʼn dooiepunt oor posisies tussen die DA en ANC ontstaan het. Die provinsiale wetgewer het 80 setels waarvan die ANC 28 het en die DA 22. Msimanga sê hulle het by vele geleenthede hulle bedoelings duidelik gemaak, maar die ANC weier om na hul voorstelle te luister:
# Die Keniaanse Nasionale Menseregtekommissie sê minstens 39 mense is dood en honderde beseer tydens betogings teen die regering. Betogings teen belasting wat hoofsaaklik deur jong mense gelei is, het verlede week in tonele van dodelike geweld ontaard nadat wetgewers die omstrede finansies-wet aanvaar het om meer geld uit belasting in te vorder. Die Nasionale Menseregtewaghond sê daar is ook 32 gevalle van mense wat verdwyn het terwyl 627 betogers gearresteer is.
# Tennis: Die Suid-Afrikaner Lloyd Harris is deur na die tweede ronde by Wimbledon nadat hy die Amerikaner Alex Michelsen met 3-6, 4-6, 7-6, 6-2, 7-6 verslaan het. Harris, wat met ʼn besering gesukkel het, het deur die Wimbledon-kwalifiseerwedstryde die paal gehaal. Die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz van Spanje, het die Estlandse kwalifiseerder Mark Lajal met 7-6, 7-5, 6-2 geklop terwyl die wêreld-nommer-een van Italië, Jannik Sinner, die Duitser Yannick Hanfmann met 6-3, 6-4, 3-6, 6-3 verslaan het. Sinner sê dis opwindend om sy eerste Grand Slam as wêreld nommer een te speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-73-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-en-81-dollar-58-sent. Die prys van goud is twee-duisend-329-dollar-86-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-76-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….