Nuus 08:00
BULLETIN 30 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF is gewillig om met ANC saam te werk sonder die DA en die VF Plus
# Die regering behaal sy eerste begrotingsurplus in 15 jaar
# En, krieket: Groot teleurstelling met Indië wat die T20-Wêreldbeker voor die Proteas se neuse wegraap
# Die EFF sê hy is gewillig om aan ‘n ANC-geleide regering van nasionale eenheid deel te neem, solank dit die DA en die Vryheidsfront Plus uitsluit. Die EFF se sekretaris-generaal, Marshall Dlamini, sê die DA en VF Plus verteenwoordig die imperialistiese verwerping van progressiewe internasionalisme en regstellende aksie, asook die onteiening van eiendom, sonder vergoeding om apartheid en kolonialisme aan te spreek:
ActionSA in KwaZulu-Natal sê intussen die politieke partye in die nasionale en provinsiale regerings van eenheid moet saam regeer terwyl hulle mekaar aanspreeklik hou. Zwakele Mncwango van ActionSA sê die mense van die provinsie het ‘n betroubare regering nodig, nie een wat sy eie belange ten koste van inwoners beskerm nie. Mncwango voeg by die eThekwini-munisipaliteit sal beter presteer as hy ingevolge die Grondwet onder administrasie geplaas word:
# Die regering se sesde administrasie het vir die eerste keer in 15 jaar sy eerste hoofbegrotingsurplus behaal. Die waarnemende regeringswoordvoerder, Nomonde Mnukwa, sê die laaste begrotingsoorskot was voor die wêreldwye finansiële krisis in 2008. Mnukwa voeg by die prysenswaardige prestasie is bereik danksy die steun wat die Nasionale Tesourie van president Cyril Ramaphosa, die minister van Finansies, Enoch Godongwana, en die kabinet ontvang het, en ondanks die talle uitdagings wat die nasionale fiskus moes hanteer:
# Krieket: Slegs sewe lopies het gisteraand tussen die Proteas en hulle eerste T20 Wêreldbeker in Barbados gestaan. Indië het hulle tweede T20-Wêreldbeker verower. Indië het ‘n indrukwekkende 177 daargestel vir ‘n oorwinning, en Suid-Afrika tot 169 vir agt beperk. In ‘n stadium het die Proteas 30 lopies van 30 balle gejaag met ses paaltjies staande, maar Indië het kop gehou. Die aanvangskolwer Virat Kohli het trane van vreugde gestort toe hy as die Speler van die Wedstryd aangewys is, terwyl die bouler Jasprit Bumrah as die Speler van die Toernooi gekroon is.
# En, Anglo American vier die amptelike oorhandiging van een van die ikoniese geboue by sy voormalige kampus in die Johannesburgse middestad aan die Sakeskool van die Universiteit van die Witwatersrand. Die indrukwekkende gebou bied aan die sakeskool die geleentheid om sy Wits Crucible, ‘n hipermoderne sentrum vir ondernemerskap en nuwe sakeondernemings, van stapel te stuur. Die Suid-Afrikaanse raadsvoorsitter van Anglo American, Nolitha Fakude, sê deur die maatskappy se samewerking met verskeie openbare en privaatsektorvennote dra hulle by tot die vernuwing van die stad.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….