Nuus 08:00
BULLETIN 25 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA-leier sê diens is hul enigste prioriteit in die regering van nasionale eenheid
# Cosatu beplan ’n Nasionale Dag van Aksie ter verdediging van werkersregte
# En Julian Assange sal nie aan die VSA uitgelewer word nie
# Die DA-leier John Steenhuisen sê die party se basiese doelwit in die regering van nasionale eenheid is om alle mense te dien, op te hef en waardigheid te verleen. Die party het gister sy 20-jarige bestaan gevier. Steenhuisen sê samewerking tussen partye wat die Grondwet wil beskerm teenoor dié wat dit wil opskeur, gee die land hoop. Hy sê dit sal jare van volgehoue harde werk, uithouvermoë, volwassenheid en samewerking op alle vlakke van die samelewing vereis om die land weer op koers te kry.
# Cosatu maak gereed vir ‘n Nasionale Dag van Optrede om werkers se regte te beskerm. Die federasie beplan landwye versetoptrede te midde van kommer oor werkverliese en ekonomiese uitdagings. Sy affiliasies sal veldtogte lei om afleggings in verskeie industrieë te voorkom. Mike Shingange van Cosatu beklemtoon hulle staan billike indiensnemingspraktyke voor:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement het bevestig ‘n brand in die psigiatriese afdeling vir vroue by die Dr George Mukhari Akademiese Hospitaal het die lewe van ʼn 35-jarige pasiënt geëis. Die pasiënt is Donderdag in die hospitaal in Ga-Rankuwa opgeneem. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê sy is gister in ʼn afsonderingskamer geplaas as deel van haar voorgeskrewe behandeling:
# Die Amerikaanse owerhede het ingestem om hul eis dat Brittanje Julian Assange uitlewer, te laat vaar nadat hulle ʼn pleitooreenkoms met die WikiLeaks-stigter bereik het. Indien hy skuldig pleit op een aanklag van sameswering om inligting oor nasionale verdediging te bekom en bekend te maak, word hy gevonnis tot die 62 maande wat hy reeds in ʼn Britse tronk is. WikiLeaks sê Assange het Belmarsh-gevangenis Maandagoggend verlaat nadat die Hooggeregshof borgtog toegestaan het. Hy was die middag by Stansted-lughawe waar hy op ʼn vliegtuig geklim en die Verenigde Koninkryk verlaat het.
# Tennis: Andy Murray werk steeds met sy mediese span nadat hy die naweek geopereer is. ‘n Verklaring deur sy span bevestig “niks is nog besluit nie” oor sy deelname aan Wimbledon en dat opdaterings volg. Murray se ma, Judy Murray, het ook haar teleurstelling op X te kenne gegee oor berigte dat haar seun nie aan Wimbledon gaan deelneem nie. Die driemalige Grand Slam-toernooiwenner het verlede week in die eerste stel by die Queens-klub weens ‘n besering onttrek van sy wedstryd in die tweede ronde teen Jordan Thompson.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-10-sent teen die dollar, 19-rand-44-sent teen die euro en 22-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-324-dollar-22-sent. Die prys van goud is twee-duisend-327-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….