Nuus 08:00
BULLETIN 21 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# TLU SA sê die tyd het aangebreek vir ‘n nie-rassige benadering tot landbou
# Cosatu gaan die salarisverhogings van LP’s met president Ramaphosa bespreek
# En tennis: Die Wimbledon-kampioen Carlos Alcaraz word in die laaste 16 van Queen’s uitgeskakel
# TLU SA sê dis tyd vir ‘n nierassige benadering in landbou waar elke individu gelyke toegang tot grond het. Die landbou-organisasie se uitvoerende hoof, Bennie van Zyl, sê dié wat wil boer moet gewillig na vore tree en verstaan dat landbou nie slegs ʼn korttermyn-onderneming is of een om inkomste aan te vul nie, maar ʼn lewenslange roeping:
# Cosatu beplan om salarisverhogings vir lede van die Parlement en ander openbare verteenwoordigers met president Cyril Ramaphosa te bespreek. ‘n Verhoging van 2,5-persent is vroeër vanjaar goedgekeur wat die salarisse van LP’s tot 1,27-miljoen-rand per jaar verhoog. Die parlementêre koördineerder van Cosatu, Matthew Parks, benadruk die noodsaaklikheid van gesprekke oor billike vergoeding en voer aan hulpbronne moet opnuut gerig word op werkers in die staatsdiens wat min verdien, soos verpleegkundiges, polisiebeamptes en skoonmakers:
# Productivity South Africa sê die land het sy posisie wat mededingendheid en sakedoeltreffendheid in die wêreld betref, verbeter. Die organisasie se waarnemende hoof-ekonoom, Juliet Mashabela, sê volgens Productivity SA en die Switsers-gebaseerde Instituut vir Bestuursontwikkeling se wêreldmededingendheidsjaarblad vir 2024 is Suid-Afrika nou 60ste uit die 67 lande wat betrek is. Mashabela sê Suid-Afrika se sakedoeltreffendheid het ses plekke opgeskuif:
# ʼn Nuwe reuse-dinosourus is ontdek met die grootste kraag-horings wat nóg onder hierdie prehistoriese diere gevind is. Die Lokiceratops rangiformis wat soos ʼn renoster gebou is, is na die Noorse god, Loki, vernoem. Sy fossiel is in die Amerikaanse staat Montana opgegrawe. Die dinosourus wat byna 78-miljoen jaar gelede die aarde bewandel het, het ʼn unieke kraag met minstens 20 horings gehad, en was volgens wetenskaplikes 6,7 meter lank. Dit het sowat vyf-en-ʼn-half ton geweeg en ʼn sterk snawel aan die voorkant van sy bek gehad waarmee hy in laaggroeiende plante gewei het.
# Tennis: Die Wimbledon-kampioen en tans wêreld nommer-twee, die 21-jarige Carlos Alcaraz, sê verloor is deel van die lewe. Die Spanjaard het ‘n skoknederlaag teen die Brit Jack Draper gely in die laaste 16 in die Queen’s Club-toernooi in Londen. Alcaraz, verlede jaar se wenner, het 7-6, 6-3 teen Daper vasgeval wat sy grootste loopbaan-oorwinning behaal het. Die 22-jarige Draper, die voorste Brit, kan die eerste Britse man word wat die Queen’s wen sedert 2016 toe Andy Murray sy vyfde Queen’s-titel ingepalm het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-95-sent teen die dollar, 19-rand-24-sent teen die euro en 22-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-445-dollar-41-sent. Die prys van goud is twee-duisend-361-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….