Nuus 08:00
BULLETIN 1 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VSA kondig nuwe heffings vir tientalle lande aan, terwyl Suid-Afrika op 30-persent bly
# Die GOOD-party sê die repokoersverlaging is ‘n welkome verligting vir verbruikers
# En AfriForum sê die hof se beslissing oor Tshwane se skoonmaakheffing is ‘n oorwinning vir inwoners
# President Donald Trump van Amerika het ‘n uitvoerende bevel onderteken wat tariewe vir meer as 60 lande aanpas terwyl die nuwe tariewe op ingevoerde goedere vandag van krag word. Dit is so hoog as 41-persent vir Sirië en 40-persent vir Laos en Mianmar. Kanada se tarief styg van 25- tot 35-persent. Suid-Afrika se tarief bly onveranderd op 30-persent. Die Withuis se perssekretaris, Karoline Leavitt, sê die hersiene tariewe sluit ʼn daling in op goedere uit Israel, Indië en Lesotho:
# Die GOOD-party sê die besluit van die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee om die uitleenkoers met 25 basispunte te verlaag, bring welkome maar effense verligting vir verbruikers met skuld. Handelsbanke se prima uitleenkoers daal tot 10,5-persent. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die land bly vasgevang in ʼn trae ekonomie met voortslepende werkloosheid en onaanvaarbare vlakke van armoede:
# Die Nasionale Dobbelraad se hoof- strategiese raadgewer, Caroline Kongwa, het bedank nadat ‘n forensiese oudit prestasiebonusse en internasionale reise as onreëlmatige uitgawes uitgelig het. Ground Up sê Kongwa het verlede jaar 3,4-miljoen-rand verdien en het vroeër hierdie maand bedank. Die organisasie is reeds elf jaar sonder ‘n raad, wat kommer oor swak bestuur onder verklikkers veroorsaak het. Die minister van Handel, Parks Tau, sê regsadvies word ingewin rakende die ouditbevindings. ‘n Proses om ‘n nuwe raad aan te stel, is na bewering aan die gang.
# AfriForum sê die Hooggeregshof in Pretoria se uitspraak oor Tshwane se nuwe skoonmaakheffing is ʼn groot oorwinning vir inwoners. Die hof het die verpligte maandelikse heffing van 194-rand-37-sent, wat byna 260-duisend huishoudings en sakeondernemings sou raak, as onregmatig en ongeldig verklaar. Arno Roodt van AfriForum sê die heffing was bloot ʼn fondsinsameling-slenter om jare lange swak beplanning en wanbestuur weg te steek:
# Krieket: Die linkerhand-draaiboulers Keshav Maharaj en Nonkululeko Mlaba is gisteraand by Krieket Suid-Afrika se toekenningsgeleentheid in Johannesburg aangewys as mans- en vrouespeler van die jaar. Kaptein Temba Bavuma, wat die Proteas in hul eerste Wêreld-toetskampioenskap-sege gelei het, is aangewys as toetsspeler en ondersteunersgunsteling van die jaar. Heinrich Klaasen wat uitgetree het, is die eendagwedstrydspeler van die jaar en Anrich Nortje is T20-speler van die jaar. Annerie Dercksen is aangewys as vroue-eendagspeler van die jaar.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 20-rand-80-sent teen die euro en 24-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 115-duisend-994-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-292-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….