Nuus 08:00
BULLETIN 16 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Amerikaanse president loof Suid-Afrika se regering van nasionale eenheid
# Fikile Mbalula sê verskeie partye het ‘n verklaring van voorneme onderteken
# En, rugby: Die Bulle is vir die eerste keer die gasheer vir die VRK-eindstryd
# Die Amerikaanse president Joe Biden het Cyril Ramaphosa met sy herverkiesing as Suid-Afrika se president gelukgewens. Hy het politieke partye ook geloof vir hulle samewerking om ‘n regering van nasionale eenheid te vorm. Biden sê Suid-Afrikaners het die blywende krag van ‘n regering ván die mense, déúr die mense en vír die mense demonstreer. Hy sien daarna uit om ekonomiese geleenthede tussen die twee lande uit te brei, om in skoon energieoplossings te belê en te wys dat demokrasie resultate oplewer.
Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê intussen verskeie politieke partye het na die verkiesing ‘n verklaring van voorneme onderteken. Maar partye wat weier om deel van die regering van nasionale eenheid te wees, is voorstanders van ‘n groot koalisie. Mbalula het na die eerste sitting van die nuwe Nasionale Raad van Provinsies in Kaapstad gepraat. Hy sê die ANC is nie ten gunste van ‘n veelparty koalisie nie:
# Die Jacob Zuma-stigting het bevestig sy voorsitter en die voormalige raadsvoorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, Dudu Myeni, is Vrydagaand na ‘n stryd met kanker oorlede. Sy was 60. Die chemoterapie wat Myeni ondergaan het, het verhoed dat sy haar korrupsie-voorverhoor aan die einde van verlede maand kon bywoon. Bosasa se bedryfshoof, Angelo Agrizzi, het by die Zondo-staatskapingskommissie getuig die maatskappy het 300-duisend-rand per maand aan Myeni betaal, met die geld wat na bewering na die Jacob Zuma-stigting gegaan het.
# Rugby: Die Bulle sal vir die eerste keer ‘n eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskappe aanbied wanneer hulle Saterdag teen die Glasgow Warriors in Pretoria te staan kom. Jake White se span het hard geveg vir hulle halfeindstryd-oorwinning van 25-20 teen die hoogaangeskrewe Leinster, voor ‘n skare van 32-duisend op Loftus Versfeld. Sergeal Petersen het twee drieë gedruk en Johan Goosen het 15 punte bygedra. In die tweede halfeindstryd het Glasgow die verdedigende kampioene Munster in Ierland met 17-10 verslaan om hulle plek in die eindstryd te verseker.
# En, op Jeugdag moedig BroadReach Health Devleopment gemeenskaps-gesondheidswerkers aan om op jongmense te konsentreer om die gesondheid van gemeenskappe te verbeter. Een van die doelwitte is om die verspreiding van MIV te beëindig. Die maatskappy se kliniese spesialis Ziyanda Makaba sê jongmense is die argitekte van verandering. Hulle moet hulleself inlig, hulle eweknieë ondersteun en die siklus van stigma verbreek om ‘n beter wêreld vir almal te bou:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….