Nuus 08:00
BULLETIN 14 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Daar bestaan ’n kworum vir die eerste parlementêre sitting sonder die MK-party se bywoning
# Agt politieke partye gaan vandag betoog oor beweerde verkiesingsbedrog
# En die Stad Joburg het munisipale skuld van meer as 52-miljard-rand
# Die sekretaris van die Parlement, Xolile George, sê die inhuldiging van die president sal na verwagting Woensdag plaasvind, binne vyf dae na sy verkiesing. Verskeie partye, insluitende MK, EFF, ActionSA, DA en UDM het wysigings aangebring aan hulle lyste vir die Nasionale Vergadering. Ten spyte van die waarskynlike afwesigheid van lede van die MK-party by die eerste sitting, sal ‘n kworum bereik met een-derde van die 400 lede. George sê afwesige lede sal later ingesweer word:
# Agt politieke partye, insluitend die MK-party, Cope en Arise SA betoog vandag in Kaapstad oor vermeende onreëlmatighede en bedrieglike aktiwiteite tydens die algemene verkiesing. Dit vind plaas terwyl die Nasionale vergadering sy eerste sitting van die sewende administrasie hou waartydens die president, speaker en adjunkspeaker verkies sal word. Die partye sê die Verkiesingskommissie het alle Artikel 55-besware verwerp sonder om die meriete daarvan en doelbewuste miskenning van die Kieswet te ondersoek.
# Die Stad Johannesburg sê hy het groeiende skuld van meer as 52-miljard-rand, en hy kan nie water, elektrisiteit en vullisverwyderingsdienste lewer indien hy nie betaal word nie. Die stad sê hy gaan nou sy veldtog verskerp om nie-betalende inwoners se dienste af te sny. Die voorstede hoogste op die lys, sluit in Midrand, Steyn City, Lenasia, Blue Hills, Bryanston en Kyalami, wat saam meer as 464-miljoen-rand skuld. Die stad sê hy is bereid om oor afbetalingsooreenkomste te onderhandel.
# Die G7-leiers het ingestem om winste van gevriesde Russiese soewereine bates te gebruik vir ‘n lening van 920-miljard-rand aan Oekraïne. Dit moet dié land help om die gevolge van Russiese aanvalle te hanteer. Die Amerikaanse president Joe Biden het ook ʼn sekerheidsooreenkoms van tien jaar met Oekraïne se president Volodymyr Zelensky onderteken. Biden het by die G7-beraad in Puglia, Italië, gesê die doel is om Oekraïne se verdediging en afskrikvermoë op die lang termyn te versterk:
# Gholf: Rory McIlroy van Noord-Ierland en die Amerikaner Patrick Cantlay het albei vyf onder 65 behaal en loop saam voor ná die eerste ronde van die Amerikaanse Ope in Noord-Carolina. Die nuweling, Ludvig Åberg van Swede, is een hou agter in die derde plek. Die wêreld se nommer een, die Amerikaner Scottie Scheffler, het op een oor 71 klaargemaak terwyl die driemalige kampioen, Tiger Woods, vier oor baansyfer het. McIlroy, wat sy vyfde major-titel wil inpalm, sê hy het ʼn beheerste ronde gholf gespeel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-718-dollar-46-sent. Die prys van goud is twee-duisend-307-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….