Nuus 08:00
BULLETIN 11 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# RISE Mzansi verwelkom die aankondiging van die eerste sitting van die Parlement
# Die voormalige uitvoerende hoof van Eskom Brian Molefe oorweeg dit om regstappe te doen teen Corruption Watch
# En die VN-Veiligheidsraad aanvaar ‘n VSA-gesteunde resolusie vir ‘n permanente skietstaking in Gaza
# RISE Mzansi het hoofregter Raymond Zondo se aankondiging verwelkom dat die eerste sitting van die Nasionale Vergadering Vrydag gehou gaan word. Tydens die sitting gaan Zondo toesig hou oor die verkiesing van die president, die speaker van die Nasionale Vergadering en die adjunk-speaker. Die Parlement moet binne veertien dae na die verklaring van die verkiesingsuitslag saamgestel word. RISE Mzansi se nasionale woordvoerder, Gugu Ndima sê die verkiesing van die drie individue moet plaasvind om grondwetlike, demokratiese en maatskaplike bestendigheid te verseker:
# Die MK-party se jeugliga sê hy verwerp Jabulani Khumalo se voortgesette stellings dat hy die partyleier is. Khumalo, die stigter en uitgesette leier, hou vol hy gaan die eerste sitting van die Nasionale Vergadering bywoon om as ‘n lid van die Parlement ingesweer te word. Sy naam is nog nie van die party se finale lys aan die Parlement verwyder nie, ondanks ‘n openbare rusie met die party en selfs ‘n hofsaak. Die jeugliga sê hy erken slegs Jacob Zuma as die enigste en regmatige leier van die party.
# Die voormalige uitvoerende hoof van Eskom, Brian Molefe, oorweeg regsoptrede teen Corruption Watch. Dit volg na die organisasie sonder winsbejag ‘n kennisgewing ingedien het oor die onttrekking van hulle hofaansoek om Molefe as ‘n afwesige direkteur te laat verklaar. Corruption Watch het in 2018 ‘n saak in die Hooggeregshof in Pretoria teen Molefe en vier voormalige direkteure van Eskom aanhangig gemaak. Molefe se regsspan sê hy het geweldige professionele en finansiële skade gely deur die ongegronde en lasterlike bewerings teen hom.
# Die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad het ‘n Amerikaanse voorstel vir ‘n permanente skietstaking tussen Hamas en Israel en die vrylating van gyselaars in Gaza aanvaar. Veertien van die 15 lede van die Veiligheidsraad het ten gunste van die voorstel gestem. Rusland het buite stemming gebly. President Joe Biden het verlede maand ‘n drieledige skietstakingsplan aangekondig. Israel het reeds die plan aanvaar. Die Palestynse ambassadeur by die VN, Riyad Mansour, het die aanvaarding van die voorstel verwelkom:
# Sokker: Drie aanhangers van Valencia is agt maande tronkstraf opgelê vir rassistiese beledigings teen die Real Madrid-ster Vinicius Junior. Dit is die eerste skuldigbevinding van sy soort in Spanje. Die oortreders, wat nie uitgeken is nie, is skuldig bevind aan ‘n skending van morele integriteit met die verswarende faktor van rassisties-gemotiveerde diskriminasie. Hulle is ook vir twee jaar wedstryde verbied. Omdat hulle nie kriminele rekords het nie, sal hulle nie tronkstraf uitdien nie, want regters skort gewoonlik tronkstraf van minder as twee jaar op vir eerste oortreders.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-19-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-342-dollar-38-sent. Die prys van goud is twee-duisend-303-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….