Nuus 08:00
BULLETIN 13 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau sê transformasie en ekonomiese insluiting is morele en ekonomiese noodsaaklikhede
# Die Madlanga-kommissie beteken ‘n kennisgewing aan die taxi-magnaat Joe Sibanyoni
# En Zelensky sê Oekraïne benodig meer Patriot-onderskeppingsmissiele
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê hervorming en ekonomiese insluiting is morele en ekonomiese noodsaaklikhede wat sentraal staan tot Suid-Afrika se demokratiese politieke orde. Hy het gister die hoofrede gelewer by die Black Business Council se jaarlikse beraad in Johannesburg. Tau sê die land se ekonomie kan nie volhoubaar groei as die meerderheid van sy mense uitgesluit is nie. Hy sê swart ekonomiese bemagtiging moet die ekonomie se volle potensiaal ontsluit:
# Die DA sê die bekendstelling van Suid-Afrika se Elektroniese Reismagtiging is ‘n groot stap vorentoe. Dit maak dit makliker om die land te besoek terwyl dit terselfdertyd grens-sekuriteit versterk. Die regering gaan intussen voort met strukturele hervorming om struikelblokke vir ekonomiese groei, belegging en werkskepping te verwyder. Adrian Roos van die DA sê ingewikkelde aansoekprosesse, paspoorte wat ingehandig moet word vir verwerking, en lang wagperiodes het probleme geskep wat Suid-Afrika minder mededingend maak teenoor bestemmings waar dit makliker is om wettig te reis:
# Die Madlanga-kommissie het ʼn Reël 10.6-kennisgewing beteken aan die omstrede taxi-baas van Mpumalanga, Joe ‘Ferrari’ Sibanyoni. Dit vereis dat hy reageer op vrae oor sake wat die kommissie ondersoek. Die vrae hou volgens berigte verband met vermeende misdaadsindikate en sy verhouding met die oorlede taxibaas, Jothan “King Mswazi” Msibi, en die omstrede sakeman, Steven Motsumi. Die Kwaggafontein-landdroshof het die saak oor afpersing en geldwassery teen Sibanyoni en sy drie medebeskuldigdes in Mei van die rol geskrap, nadat die aanklaer nie by die hof opgedaag het nie.
# President Volodymyr Zelensky van Oekraïne sê sy land het slegs sowat een-persent van die vereiste Patriot-onderskepmissiele in voorraad wat nodig is om die land teen Russiese ballistiese aanvalle te beskerm. Moskou het die afgelope weke sy ballistiese-missielaanvalle op Kiëf verskerp. Daar is tans wêreldwyd ʼn tekort aan onderskepmissiele weens die VSA-Israelse oorlog teen Iran. Zelensky het aan CNN gesê hy beraadslaag daagliks met bondgenote om bykomende onderskepmissiele te kry of ander vermoëns daarvoor uit te ruil:
# Sokker: Die kampioene van Europa, Paris Saint-Germain, het Aston Villa met 2-1 verslaan en daarmee opeenvolgende Europese Sokkerbeheerliggaam-superbekers in Salzburg, Oostenryk gewen. Khvicha Kvaratskhelia het die eerste doel vir PSG in die twintigste minuut aangeteken. Villa het positief reageer met hul 17-jarige debutant Brian Madjo wat die gelykmaker net voor rustyd aangeteken het en daarmee die jongste Superbeker-puntemaker ooit geword het. Speler van die wedstryd Désiré Doué het die wendoel aangeteken. Die bestuurder van PSG, Luis Enrique, sê hulle is vasbeslote om hierdie seisoen nog meer trofeë te wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-14-sent teen die dollar, 18-rand-60-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-506-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-408-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….