Nuus 08:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Politieke ontleder sê Suid-Afrikaners het die ANC gestraf oor sy arrogansie met mag
# Bykans 50-persent van die lede van die sewende Parlement is jonger as 50 jaar
# En, padwedlope: Meer as 20 000 atlete spring weg in die Comrades
# Die politieke ontleder, Aubrey Matshiqi, sê Suid-Afrikaners het die ANC gestraf vir sy arrogansie met mag. Hy het tydens ‘n potgooi gesê hy is jammer oor die verkiesingsuitslae en wys daarop kiesers het opgestaan teen die ANC weens sy swakheid en beloftes wat nie volvoer is nie. Hy hou vol Suid-Afrikaners het ‘n standpunt ingeneem met hulle stemme en beklemtoon die teenrewolusie wat op die uitslae volg:
Intussen het die sekretaris van die Parlement, Xolile George, bekendgemaak bykans 50-persent van die 7de Parlement se lede is jonger as 50. Na die verkiesingsuitslae en die weglating van sommige LP’s, is jonger lede nou beter verteenwoordig. George het ook bevestig geslagsgelykheid in die nuwe Parlement het van 45,6-persent tot 43,5-persent gedaal, gemeet aan die verteenwoordiging van vroue. Dit is ‘n bron van kommer want vroue is die meerderheid onder kiesers. George het aangedui lede van die Parlement sal by die Internasionale Konvensiesentrum in Kaapstad ingehuldig word.
# Die Nasionale Eenheid vir Vervalste Goedere het twee Chinese burgers in Johannesburg aangekeer en beslag gelê op vervalste goedere ter waarde van 5,8-miljoen-rand. Die polisiewoordvoerder Amanda van Wyk sê meer as sewe-duisend items wat bekende handelsname namaak is gekonfiskeer. Twee burgers van Ethiopië is ook aangekeer vir oortreding van immigrasiewette. Die gekonfiskeerde items sluit in sporttoerusting, klerasie, skoene, parfuum, sonbrille, horlosies en handsakke:
# Die Israelse weermag het vier gyselaars ontset in ‘n spesiale operasie in die Nuseirat-vlugtelingkamp in sentraal-Gaza. Die operasie het volgens die owerhede in Gaza tot die dood van 210 mense en meer as 400 beseerdes gelei. Die drie mans en ‘n vrou, wat tydens die Nova-musiekfees op 7 Oktober ontvoer is, is almal in ‘n goeie mediese toestand. ‘n Polisielid van die Israelse spesiale teen-terreureenheid is tydens gister se operasie dood.
# Ten slotte, padwedlope: Meer as 20-duisend atlete het vroeg vanoggend weggespring in die 97ste Comrades-marathon in KwaZulu-Natal. Vanjaar se op-wedloop oor 85,91-kolometer het in Durban begin en eindig in Pietermaritzburg. Meer as 70 dokters is aan diens, en vyf-duisend vrywilligers beman die 48 verversingstasies. Onder die vroue-gunstelinge om die ikoniese wedloop te wen, is Gerda Steyn van Suid-Afrika, die Rus Alexandra Morozova en Dominika Stelmach van Pole, en onder die mans Piet Wiersma van Nederland, Andrew Davies van Brittanje en die Rus Aleksei Beresnev.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….