Nuus 08:00
BULLETIN 7 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regbank is gereed om ‘n gladde oorgang in die grondwetlike demokrasie te verseker
# OUTA wen hul hofgeding teen Nersa en Karpowership met koste
# En ‘n nog ’n medewerker van Trump word beveel om vir gevangenisstraf aan te meld
# Hoofregter Raymond Zondo sê die regbank is bereid om ‘n naatlose oorgang in die grondwetlike demokrasie ná die verkiesing te verseker. Zondo het tydens die lysoorhandigingseremonie van die verkose verteenwoordigers by die Konstitusionele Hof in Johannesburg gepraat en die regbank se rol van verantwoordelikheid oor die verkiesing van parlementêre amptenare en die beëdiging van lede bevestig. Hy het ook die regbank se gereedheid beklemtoon om deur wettige kanale aandag te skenk aan enige griewe wat verband hou met die verkiesingsproses:
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê die uitspraak van die Hooggeregshof in Pretoria teen die Nasionale Energiereguleerder en die Turkse maatskappy Karpowership is ‘n belangrike oorwinning vir die burgerlike samelewing. OUTA het Nersa se goedkeuring van opwekkingslisensies vir Karpowership betwis, weens onregverdigheid in die proses en ‘n gebrek aan deursigtigheid. Stefanie Fick van OUTA loof die koste-straf en volle onthulling as ‘n presedent vir verbeterde oorsig oor regulasies:
# President Cyril Ramaphosa besoek vandag Gqeberha in die Oos-Kaap om regeringsdepartemente en -instellings se reaksie op die dodelike oorstromings te assesseer. Minstens tien mense is in die Nelson Mandelabaai- en Buffalo City-munisipaliteite dood. Die oorstromings het ook openbare infrastruktuur en privaat eiendom beskadig. Die Presidensie sê die regering sal sy bes doen om seker te maak die herstelproses voldoen aan inwoners se behoeftes en hernuwe die gebiede wat geraak word.
# ‘n Federale regter het oudpresident Donald Trump se gewese strateeg, Steve Bannon, beveel om teen 1 Julie by die tronk aan te meld vir ʼn vonnis van vier maande tronkstraf. ʼn Jurie het die 70-jarige Bannon skuldig bevind op twee aanklagte van minagting van die Kongres in 2022. Hy het geweier om ʼn dagvaarding van die Huis se Gekose Komitee na te kom wat die sogenaamde 6 Januarie 2021-aanval op die Kongresgebou ondersoek. Bannon ontken skuld. Nog ʼn Trump-bondgenoot en gewese Withuis-handelsraadgewer, Peter Navarro, dien reeds tronkstraf van vier maande uit.
# Krieket: Mede-aanbieders Amerika het Pakistan verstom met ʼn sege in hulle tweede T20-wêreldbeker-wedstryd in Dallas, Texas. Die wedstryd het ʼn ekstra beurt gekry nadat albei spanne 159 in hul 20 boulbeurte behaal het. Amerika het eerste gekolf in die ekstra beurt en 18 vir een behaal. Pakistan is daarna tot 13 vir een beperk. Intussen het Richie Berrington in Bridgetown, Barbados, ʼn onoorwonne 47 aangeteken met Skotland wat 156 ingeöes het om Namibië met vyf paaltjies te klop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-63-sent teen die euro en 24-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-132-dollar-27-sent. Die prys van goud is twee-duisend-380-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….