Nuus 08:00
BULLETIN 4 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership SA sê die land het ‘n bestendige koalisieregering nodig
# Swaar reën, oorstromings en sneeu raak dele van Suid-Afrika
# En Israel bevestig die dood van vier gyselaars wat deur Hamas in Gaza gehou is
# Business Leadership South Africa sê die land het ‘n stabiele regering nodig wat die ekonomie op die regte pad plaas om werk en belastinginkomste te skep. Die ANC het die eerste keer sedert 1994 sy meerderheid verloor. BLSA se uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê die ooreenkomste wat politieke partye nou sluit, moet die volle vyfjaar-termyn duur. Sy sê die land kan nie voortdurende wantrouemosies en herhaalde verkiesings bekostig soos in sommige lande gebeur waar koalisies die norm is nie.
Die politieke organisasie Azapo sê intussen die land bevind hom by ‘n kruispad waar ‘n koalisieregering gevorm moet word. Die ANC begin volgens berigte nou ‘n sogenaamde ooreenkoms van vertroue-en-lewering oorweeg, moontlik met die DA en IVP as sy voorkeurvennote. Azapo se woordvoerder, Jabu Rakwena, sê die land het ‘n gladde oorgang na sy sewende administrasie nodig:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê die storm wat in dele van KwaZulu-Natal gewoed het, was ʼn tornado. Die ontwrigtende reën en sterk wind het chaos veroorsaak in Tongaat, Ballito en Durban se middestad. Wydverspreide skade aan paaie en infrastruktuur is aangemeld, maar geen beserings of sterftes nie. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens se hoofweervoorspeller, Kevin Rae, sê nog reën en moontlik ook sneeu word verwag in die hoogliggende gebiede van die Wes-Kaap, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal:
# Die Israelse Weermag sê hy het vasgestel vier gyselaars wat deur Hamas in Gaza aangehou word, is dood. Die Brits-Israeli Nadav Popplewell, Chaim Peri, Yoram Metzger en Amiram Cooper is tydens ʼn operasie deur Israel in Khan Younis in die suide van Gaza gevind. Meer as 250 mense is tydens Hamas se aanval op 7 Oktober in Israel gyselaar geneem en na Gaza geneem. Tydens ʼn tydelike skietstilstand in November verlede jaar is 105 gyselaars vrygelaat.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Novak Djokovic, het die Argentyn, Francisco Cerundolo, in vyf stelle verslaan om die Franse Ope-kwarteindronde te haal. Die Serwiër het met 6-1, 5-7, 3-6, 7-5, 6-3 geseëvier om die rekord van 370 Grand Slam-oorwinnings te verbeter. Djokovic takel volgende die sewende gekeurde Casper Ruud van Noorweë. Die Rus Daniil Medvedev is die hoogste gekeurde speler wat uitgeskakel is nadat hy met 4-6, 6-2, 6-1, 6-3 teen die Australiër Alex de Minaur verloor het. Djokovic sukkel met ʼn kniebesering en sê hy het op verskillende stadiums van die wedstryd pyn ervaar:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-55-sent teen die dollar, 20-rand-24-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-208-dollar-99-sent. Die prys van goud is twee-duisend-344-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….