Nuus 08:00
BULLETIN 30 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie verwag om die uitslae Sondag bekend te maak
# Julius Malema sê die EFF sal enige uitslag van die verkiesing aanvaar
# En gholf: Al die aanklagte teen Scottie Scheffler word teruggetrek
# Die Verkiesingskommissie sê hy het sewe dae tyd om die uitslag aan te kondig, maar gaan probeer om dit teen Sondag te doen. Die tellery in 133 van die 23-duisend-293 stemdistrikte is afgehandel en die ANC loop tans nasionaal voor met 49,37-persent, gevolg deur die DA met 26,22-persent en die EFF met 7,18-persent. Die OVK-hoof, Sy Mamabolo, sê hulle wil akkuraatheid en spoed balanseer in die verkiesingsuitslag se bekendmaking..
# Die EFF-leier Julius Malema sê hulle sien met afwagting uit na die uitslag van die verkiesing. Die party wil die DA as amptelike opposisie verwyder, en een-miljoen stemme in Gauteng en nog ‘n miljoen in KwaZulu-Natal kry. Malema sê die eerste prys is nie om president van Suid-Afrika te word nie, maar om landsburgers se waardigheid te herstel:
# Die Stad Tshwane sê die diensonderbrekings wat gister in verskeie gebiede voorgekom het, was nie as gevolg van sabotasie nie. Sommige inwoners het onder krag- en wateronderbrekings deurgeloop wat hulle veral nie op verkiesingsdag verwag het nie. Gebiede soos Soshanguve, Mamelodi, dele van Centurion en Moreletapark is geraak, maar die probleme is opgelos. Die metro se woordvoerder, Selby Bokaba, sê die onderbrekings is veroorsaak deur stelselfoute en kabeldiefstal:
# Verwagtings van uitgestelde rentekoersverlagings in Amerika het ‘n uitwerking op oliepryse. ‘n Styging in verbruikersvertroue het vrees laat ontstaan die Amerikaanse Federale Reserwebank rentekoersverlagings kan uitstel, wat die Amerikaanse dollar sal versterk en olie duurder vir internasionale kopers maak. Ondanks die kommer, het oliepryse gestyg weens verwagtings dat die groot olieprodusente hulle verskaffing sal sny met wêreldwye vraag wat in die somer toeneem soos mense meer reis. Die moontlikheid dat die Federale Reserwebank se eerste koersverlaging in September gaan doen, het tot 44-persent gedaal, met verwagtings vir verlagings in November en Desember ook laer.
# Gholf: Aanklagte teen die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler, is laat vaar nadat hy tydens die PGA-kampioenskap in Louisville gearresteer is. Die Amerikaner is aangekla van aanranding op ʼn polisiebeampte, misdadige optrede, roekelose bestuur en dat hy ʼn verkeersbeampte geïgnoreer het. Jefferson-distrik se aanklaer, Mike O’Connell, sê hy het die bewyse bestudeer en tot die gevolgtrekking gekom Scheffler se gedrag was nie misdadig nie. Scheffler se prokureur, Steve Romines, sê sy 27-jarige kliënt gaan nie ʼn siviele saak aanhangig maak nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 23-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-956-dollar-22-sent. Die prys van goud is twee-duisend-333-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….