Nuus 08:00
BULLETIN 29 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Amnestie Internasionaal vra vir ’n vry en regverdige verkiesing waartydens menseregte gerespekteer word
# Die Presidensie verwerp bewerings dat beurtkrag ná die verkiesing sal terugkeer
# En tien onderwysers is dood in ‘n ongeluk tussen ‘n vragmotor en ‘n taxi in Limpopo
# Amnestie Internasionaal Suid-Afrika versoek die Verkiesingskommissie, partye, kandidate en owerhede om te verseker die verkiesing is vry en regverdig en menseregte word gehandhaaf. Direkteur Shenilla Mohammed beklemtoon die regte van kiesers, hul waardigheid en veiligheid moet beskerm word. Mohammed wys daarop net vier partye en een onafhanklike kandidaat het Amnestie se Menseregtemanifes na sy vrystelling verlede maand onderteken en hulle daartoe verbind. Sy bepleit universele beginsels om Suid-Afrika se toekoms te rig:
# Die Presidensie sê bewerings dat beurtkrag binnekort terugkom, is feitelik verkeerd en ‘n misleidende politieke foefie om die land te mislei terwyl die verkiesing vandag plaasvind. Beurtkrag is die afgelope 62 agtereenvolgende dae opgeskort. Die Presidensie sê daar is toenemende en oorweldigende steun vir Eskom se volgehoue pogings om homself reg te stel, te stabiliseer en die opwekkingstelsel te versterk. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê beurtkrag bly opgeskort:
# Die Suid-Afrikaanse Studente-unie het die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente geloof nadat hy kontrakte met betalingsdiensverskaffers gestaak het. Die skema het ná aanbevelings van Werkmans Prokureurs se verslag kontrakte met Ezaga Holdings, Coinvest Africa, Norraco Corporation en Tenet Technologies opgeskort. Die verslag het die kollig laat val op probleme met bestuur en verkrygingstelsels by die skema. Die unie sê terwyl betalingstelsels tans werk, sal die skema se nuwe ingryping beter betalingsopsies vir studente bied.
# Limpopo se Onderwysdepartement het bevestig tien van die 13 mense wat gisteroggend in die ongeluk op die Polokwane-Dendron-pad dood is, was onderwysers. ʼn Vragmotor wat in die aankomende baan gery het, het teen ʼn taxi gebots. Ander oorledenes is die taxibestuurder, ʼn vragmotorbestuurder en ʼn Eskom-werknemer. Die botsing is deur roekelose bestuur veroorsaak.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Novak Djokovic, is deur na die Franse Ope se tweede ronde. Die Serwiër het Pierre-Hugues Herbert van Frankryk met 6-4, 7-6 en 6-4 geklop in sy poging om die rekord met ʼn 25ste Grand Slam-titel te verbeter. Die tweemalige naaswenner, Casper Ruud van Noorweë, het die Brasiliaanse kwalifiseerder, Felipe Meligeni Alves, in skoon stelle verslaan. Die Australiër Alex de Minaur en Amerikaner Taylor Fritz spog ook met oorwinnings. Djokovic speel volgende teen die Spanjaard, Roberto Carballes Baena, en sê hy voel goed op die baan:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-31-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-694-dollar-42-sent. Die prys van goud is twee-duisend-356-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….