Nuus 08:00
BULLETIN 28 Mei 08:00
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ipsos bevind ‘n derde van die kiesers voel dat geen politieke party by hul sienings weerspieël nie
# Netanyahu sê die dodelike lugaanval op ‘n Rafah-kamp was ‘n tragiese fout
# En tennis: Nadal buig die knie teen Zverev in die eerste ronde van die Franse Ope
# Meer as 35-persent geregistreerde Suid-Afrikaanse kiesers voel geen politieke party onderskryf hulle siening en mening ten volle nie. Dis is volgens ‘n opname deur die marknavorsingsmaatskappy, Ipsos, en gebaseer op die menings van twee-duisend-545 geregistreerde kiesers. Ipsos-woordvoerder, Mari Harris, sê lojale ondersteuners van die ANC, DA en EFF het groot vertroue in hul partye uitgespreek, maar die breër Suid-Afrikaanse bevolking het min vertroue in dieselfde politieke partye:
# Die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing moedig kiesers aan om in Woensdag se nasionale en provinsiale verkiesing aan te sluit by die Verkiesingtevredenheidspeiling. In die studie, namens die Verkiesingskommissie, sal onderhoudvoerders van die raad by 300 stempunte regoor die land data insamel. Die peiling sal kiesers se mening inwin oor verkiesingsregverdigheid en die doeltreffendheid van die Verkiesingskommissie. Die uitslag sal binne 48 uur na die verkiesing beskikbaar wees.
# Polisie in Gauteng het nog twee verdagtes vasgetrek in verband met die moord op twee lede van die MK-party in Katlehong. Dit bring die getal verdagtes wat gearresteer is op drie te staan. Bongani Mkhwanazi en Xolani Nzimande is Sondagaand doodgeskiet. Die polisiewoordvoerder, Brenda Muridili, sê die motief vir die voorval sal tydens die ondersoek bepaal word:
# Israel se eerste minister Benjamin Netanyahu beskryf Sondag se lugaanval in Rafah, Gaza, as ʼn tragiese fout. Minstens 45 mense, insluitend vroue en kinders, is in die aanval op ʼn kamp vir ontheemdes dood. Dit was een van die dodelikste voorvalle die afgelope agt maande en kom dae nadat die Internasionale Geregshof Israel beveel het om onmiddellik sy optrede in Rafah te staak. Netanyahu sê die weermag doen alles moontlik om niemand te beseer wat nie deel van die konflik is nie, maar sê hy sal voortgaan om teen Hamas te veg.
# Tennis: Die 14-malige kampioen, Rafael Nadal, is in die eerste ronde van die Franse Ope uitgeskakel. Die Spanjaard het met 6-3, 7-6 en 6-3 teen die vierde gekeurde Duitser, Alexander Zverev, verloor. Dis sy vierde nederlaag uit 116 enkelspelwedstryde op Roland Garros. Daniil Medvedev van Rusland klop Dominik Koepfer van Duitsland met 6-3, 6-4, 5-7 en 6-3 om die tweede ronde te haal. Die Franse gunsteling, Gael Monfils, en Italianer Lorenzo Musetti het ook gewen. Nadal sê hy is onseker of dit sy laaste wedstryd by die Franse Ope was:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 23-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-776-dollar-29-sent. Die prys van goud is twee-duisend-351-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….