Nuus 08:00
BULLETIN 25 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu sê werkers is gereed vir die ANC se Siyanqoba-saamtrek
# Beurtkrag bly steeds opgehef danksy betroubare opwekkingsvermoë
# En, krieket: Heinrich Klaasen help Sunrisers om die IPL-eindstryd te haal
# Cosatu sê werkers is gereed om vandag die FNB-stadion in Johannesburg vol te pak vir hulle alliansievennoot, die ANC, se Siyanqoba-saamtrek. Cosatu se woordvoerder Matthew Parks sê hulle het met werkers van taxi-staanplekke in Mamelodi tot fabrieke in Sedibeng, van myne in Carltonville tot plase by Krugersdorp gepraat. Hy voeg by die werkers is opgewonde om hulle steun by die Siyanqoba-saamtrek te toon deur in groot getalle op te daag:
# Eskom het aangekondig beurtkrag bly tot verdere kennisgewing opgeskort, wat stemdag Woensdag insluit. Dit is danksy die voortgesette struturele verbetering in die betroubaarheid van die opwekkingsvloot. Beurtkrag is nou vir 58 agtereenvolgende dae opgehef. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die laaste keer wat Suid-Afrika so ‘n langdurige opskorting gehad het was tussen Desember 2021 en Februarie 2022:
# City Power het sy stryd teen kabeldiefstal en vandalisme verskerp, wat gelei het tot die arrestasie van 22 verdagtes. Elf Lesotho-burgers, wat betrap is toe hulle met infrastruktuur gepeuter het, is onder diegene wat in hegtenis geneem is. Die verdagtes was naby die M1-tonnels waar ‘n brand vroeër hierdie maand uitgebreek en ‘n langdurige onderbreking veroorsaak het. Die woordvoerder, Isaac Mangena, loof die samewerking tussen gemeenskappe en die polisie in die beveiliging van noodsaaklike infrastruktuur:
# Krieket: Heinrich Klaasen het ‘n 50-tal van 34-balle aangeteken om Sunrisers Hyderabad te help om na die eindstryd van die Indiese Premierliga deur te dring met ‘n gemaklike 36-lopie-oorwinning oor Rajasthan Royals. Klaasen het vier sesse gemoker en Sunrisers se telling tot 175 vir nege op te stoot nadat Travis Head en Raul Tripathi die span vroeër goed laat wegspring het. Shabhaz Ahmed het toe die skade met die bal aangerig met ‘n indrukwekkende drie vir 23. Sunrisers kom môre in die eindstryd teen Kolkatta Knight Riders in Chennai te staan.
# En laastens, Die Toerisme-transformasiefonds het transaksies van 272-miljoen-rand goedgekeur, wat toerisme-ondernemings in swart besit sedert 2017 ondersteun. Dit is deur die Departement van Toerisme en die Nasionale Bemagtigingsfonds begin en verskaf pasgemaakte befondsingsoplossings, insluitende toelaes, skuldfinansiering en ekwiteitsbydraes. Die adjunkminister van Toerisme, Fish Mahlalela, wys op die skep van een-duisend-47 werksgeleenthede en ondersteuning vir ondernemings in besit van swart vroue, asook ondernemings wat deurjongmense bestuur word. Ondanks vordering, is Mahlalela van mening daar is ‘n behoefte aan groter transformasie om billike groei in die bedryf te bewerkstellig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….