Nuus 08:00
BULLETIN 22 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa verleng die ontplooiing van die Weermag by Eskom-kragstasies
# Die Regterlike Dienskommissie beveel Mandisa Maya aan as die nuwe Hoofregter
# En die verdediging sluit sy saak in Trump se swyggeld-verhoor
# President Cyril Ramaphosa het die ontplooiing van lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag by Eskom verleng. Hy het in Desember 2022, altesaam 746 soldate by Eskom-kragstasies ontplooi. Die doel was om die polisie te help om die kragstasies te beskerm waar sabotasie, diefstal en ander misdade die werking en elektrisiteitsvoorraad bedreig het. Die geraamde koste is sowat 204-miljoen-rand. Ramaphosa het intussen ook die ontplooiing van twee-duisend-300 weermaglede verleng om die polisie te help om onwettige mynbedrywighede te voorkom en te bekamp. Hierdie koste word op 349,9-miljoen-rand geraam.
# Die Regterlike Dienskommissie het besluit om aan te beveel dat president Cyril Ramaphosa adjunkhoofregter Mandisa Maya as die volgende hoofregter aanstel. Sy was gister die enigste kandidaat met wie die kommissie ‘n onderhoud gevoer het. Indien sy aangestel word, sal Maya hoofregter Raymond Zondo vervang wie se termyn in Augustus verstryk. Sy sal ook die eerste vrou wees wat die amp beklee. Maya sê die land het ʼn regstelsel nodig waarin landsburgers glo en wat hulle vertrou:
# Die munisipale en verwante werkersvakbond, Demawusa, vra dat vier van sy lede wat buite Pikitup in Johannesburg betoog het, vrygelaat word. Werkers wat deur Pikitup gekontrakteer is, se staking beïnvloed steeds vullisverwydering en 10 van sy 12 depots word geraak. Die werkers eis om permanent by die vullisverwyderings-maatskappy aangestel te word. Die vakbond se sekretaris-generaal, Meshack Ntshauba, sê die lede wat gearresteer is, verskyn vandag in die Johannesburg-landdroshof:
# Die voormalige Amerikaanse president, Donald Trump is vol vertroue oor die uitkoms van sy swyggeld-strafsaak. Die verdediging het sy saak gister afgesluit sonder dat die voormalige president getuig het. Trump, wat byna gewaarborg is om die Republikeinse party se presidentskandidaat te wees, word aangekla van die vervalsing van sakerekords wat verband hou met ‘n betaling aan die voormalige volwasse-rolprent-ster, Stormy Daniels in ruil vir haar stilswye oor ‘n beweerde seksuele verhouding. Slotbetoë word volgende Dinsdag aangehoor en ‘n uitspraak is moontlik aan die einde van die week.
# Gholf: Die polisie in Louisville sê hulle gaan ondersoek instel of die regte prosedures gevolg is toe die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler, by die PGA-kampioenskap gearresteer is. Die Amerikaner is Vrydag in hegtenis geneem nadat hy in swaar verkeer probeer het om by die Valhalla-gholfklub in te ry. Die 27-jarige speler staar aanklagte in die gesig van aanranding, misdadige optrede en dat hy ʼn verkeersbeampte geïgnoreer het. Scheffler ontken alle aanklagte. Louisville se polisiehoof, Jacquelyn Gwinn-Villaroel, sê enige beleidsoortredings sal behoorlik hanteer word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-5-sent teen die dollar, 19-rand-60-sent teen die euro en 22-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-890-dollar-20-sent. Die prys van goud is twee-duisend-418-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-25-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….