Nuus 08:00
BULLETIN 14 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Internasionale Betrekkinge is gefokus op die repatriasie van sommige van die George-slagoffers
# Minister Lamola heropen die geregtelike doodsondersoek na die dood van hoofman Albert Luthuli in die apartheidsera
# En die VSA sê Israel het genoeg troepe aan die buitewyke van Rafah vir ‘n inval
# Die adjunkminister van Internasionale Betrekkinge, Alvin Botes, doen ‘n beroep op die privaat sektor om aan families geld te gee om hulle geliefdes wat in die George-ramp dood is, te repatrieer. Daar was 81 werkers op die perseel toe ʼn gebou verlede Maandag ingetuimel het. Twee-en-dertig is dood en 20 word nog vermis. Botes sê sommige van die oorledenes kom van Zimbabwe, Malawi en Mosambiek:
Die Wes-Kaapse LUR vir Infrastruktuur, Tertuis Simmers, sê intussen die provinsiale regering het ʼn onafhanklike ondersoek begin na die ineenstorting van die gebou in George. Twee-en-dertig werkers is dood en nog 20 word nog vermis. Simmers sê hulle wil seker maak hulle ondersoek en verstaan ten volle wat gebeur het sodat ʼn soortgelyke tragedie nie weer op enige bouterrein in die provinsie plaasvind nie. Hy voeg by die onafhanklike ondersoeker is in hierdie stadium besig met prosesse om inligting en feite in te samel.
# Die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola, sê die dood van die gewese ANC-president en Nobelpryswenner Albert Luthuli gaan weer ondersoek word. Luthuli is op 21 Julie 1967 dood nadat hy volgens die amptelike verslag naby die Gledthrow-stasie in KwaZulu-Natal deur ʼn trein getref is. Volgens ʼn 1967-verslag was daar geen aanspreeklikheid aan die kant van die Suid-Afrikaanse Spoorweë of enige iemand anders nie. Lamola sê die reg is nie tydsgebonde nie en die waarheid moet seëvier.
# Amerika sê hy het vasgestel dat Israel genoeg soldate net buite Rafah in Gaza het om binnekort ʼn volskaalse inval te begin. Amptenare beraam dat ongeveer 500-duisend mense uit die stad gevlug het nadat die Israelse weermag hulle verlede week gewaarsku het om te ontruim. Die Withuis se nasionale veiligheidsraadgewer, Jake Sullivan, sê hulle maan Israel om hulle militêre optrede aan ʼn duidelike eind-plan te koppel vir hulle voortgesette oorlog teen Hamas:
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Daniil Medvedev, is deur na die Italiaanse Ope se ronde van 16. Die Rus het die Serwiër Hamad Medjedovic met 7-6, 2-6 en 7-5 geklop in sy poging om die eerste keer ʼn toervlaktitel te verdedig. Medvedev kom nou teen die 14de gekeurde Amerikaner, Tommy Paul, te staan wat Dominik Koepfer van Duitsland in skoon stelle verslaan het. Die Griek, Stefanos Tsitsipas, het sy indrukwekkende kleibaan-seisoen voortgesit en die Brit Cameron Norrie met 6-2 en 7-6 afgeransel. Holger Rune van Denemarke en die Rus Andrey Rublev is uitgeskakel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-481-dollar-97-sent. Die prys van goud is twee-duisend-342-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….