Nuus 08:00
BULLETIN 12 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Polisie-snuffelhonde lei spanne na ‘n oorlewende onder die puin van die ineengestorte George-gebou
# Cyril Ramaphosa sê die ANC-regering sal steeds die armoedevlak aan bande lê
# En, rugby: VRK seges vir die Leeus en die Bulle, maar die Haaie val vas
# Die Wes-Kaapse polisie sê hulle snuffelhonde, Abbey en Lex, het reddingswerkers gister gelei na die oorlewende onder die puin van die ineengestorte gebou in George. Adjudant-offisier Willie Visser en sy hond Abbey se broodnodige aanduiding van lewe is bevestig deur Lex en hanteerder adjudant-offisier Riaan le Roux. Die 33-jarige teellêer Gabriel Guambe het 116 uur lank oorleef voordat hy opgespoor is. Die polisiewoordvoerder Christopher Spies sê Guambe sterk goed in die hospitaal aan:
Intussen gaan die reddingsoperasie sy sewende dag binne. Teen vroeg vanoggend het die dodetal tot 15 gestyg nadat nog ‘n liggaam opgespoor is, met nog 14 pasiënte wat steeds in die hospitaal is. Van die 81 mense wat op die perseel was toe die ramp Maandag gebeur het, is 44 gered en 37 word steeds vermis.
# President Cyril Ramaphosa sê die ANC-regering sal steeds armoedevlakke en ongelykheid aan bande lê deur mense se lewensmiddele aan te help met maatskaplike toelae. Ramaphosa het in Malamulele in Limpopo gepraat op ‘n verkiesingsveldtog en gesê dit sal bereik word soos die land se ekonomie groei en industrialisasie vorder. Hy sê die eerste taak wat oud-president Nelson Mandela gepak het was om seker te maak ouer burgers kry gelyke toelaes aan dié van witmense:
# Rugby: Die Leeus het hulle hoop op ‘n Verenigde Rugbykampioenskap uitspeelwedstryd verhoog met ‘n bonuspunt-oorwinning teen Cardiff in Johannesburg. Die sege van 34-13 beteken die Leeus het die gaping tussen hulle en Benetton, wat agtste geplaas is, met vier punte vernou. Die Italianers het ‘n groot opskudding veroorsaak deur die Haaie in Durban met 25-24 te klop. In Pretoria het die losskakel Chris Smith 20 punte met sy skopskoen aangeteken en die Bulle gehelp om die Glasgow Warriors met 40-34 te klop. Na die 16de ronde is die Glasgow bo-aan die punteleer met die Bulle vierde en die Stormers vyfde.
# En om mee af te sluit: Die minister van Gesondheid, Joe Phaahla, en die Gautengse LUR vir Gesondheid en Welsyn, Nomantu Nkomo-Ralehoko sluit hulle vandag by verpleegkundiges aan om Internasionale Verpleegkundiges-dag by die Chris Hani Baragwanath Akademiese hospitaal in Soweto te vier. Die dag gedenk die verjaardag van die stigter van moderne verpleegkunde, Florence Nightingale. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modibe sê die vieringe is bedoel om die aansienlike bydrae van verpleegpersoneel te eer en te waardeer in die diens wat hulle aan pasiënte met warmte, deernis en empatie lewer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….