Nuus 08:00
BULLETIN 7 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die dodetal ná die gebou-ineenstorting in George styg tot vier
# Die DA sê die ANC het ‘n ongunstige beleggingsomgewing geskep
# En minister Pandor sluit haar werksbesoek aan Ekwatoriaal-Guinee af
# Die dodetal na die ineenstorting van ʼn vyfverdieping-gebou wat in George in die Wes-Kaap in aanbou was, het tot vier gestyg. Vyf-en-sewentig konstruksiewerkers was gistermiddag op die perseel toe dit ineengestort het. Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê 24 pasiënte is uit die puin in Victoriastraat 75 gehaal, terwyl 51 mense nog vermis word:
# Die DA sê die ANC-regering moet die skuld kry dat plaaslike en internasionale sentiment in die land tans op ‘n algehele laagtepunt is. Dit volg nadat die oliereus, Shell, aangekondig het hy onttrek aan Suid-Afrika, wat die verkoop van sy kleinhandel-bates insluit. Dion George van die DA sê beleggers wat reeds ontnugter is deur die ANC se nielewensvatbare benadering tot die ekonomie, vlug landuit weens die moontlikheid van ʼn ANC/EFF-koalisie:
# ‘n Beslagleggingsbevel van 53-miljoen-rand is in die Hooggeregshof in Pretoria aan die Spesiale Ondersoekeenheid en die Batebeslagleggingseenheid toegestaan. Dit hou verband met bedrog met die oordrag van staatsgrond in Gauteng na private entiteite en individue. Die hof het beslis die titelakte van grond ten bedrae van 41-miljoen-rand in Zuurfontein, Ekurhuleni, moet na Gauteng se Departement van Infrastruktuur-ontwikkeling oorgedra word. Die SOE sê RIC Development, wat as deel van ‘n gronddiefstalsindikaat Zuurfontein gekoop het, moet 12-miljoen-rand aan die departement betaal.
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor, het haar werksbesoek van twee dae aan Ekwatoriaal-Guinee afgesluit. Die twee lande het ʼn memorandum van verstandhouding onderteken om ʼn gesamentlike kommissie van samewerking te stig. Pandor sê hulle beraadslaging het gefokus op die versterking van bilaterale betrekkinge tussen Suid-Afrika en Ekwatoriaal-Guinee en kwessies van gemeenskaplike belang:
# Krieket: Suryakumar Yadav se onoorwonne honderdtal in die Indiese Premierliga het die Mumbai Indians tot ʼn sewe-paaltjie-sege oor die Sunrisers Hyderabad gelei. Hardik Pandya en Piyush Chawla het elkeen drie paaltjies platgetrek en die Sunrisers in hulle 20 boulbeurte tot 173 vir agt beperk. In antwoord daarop het Yadav sy eerste IPL-honderdtal aangeteken met ʼn onoorwonne 102 van 51 balle. Mumbai het die teiken gehaal met 16 balle wat oorbly. Hierdie oorwinning hou Mumbai in die wedloop om die uitspeelwedstryde te haal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-50X-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-450-dollar-4-sent. Die prys van goud is twee-duisend-323-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….