Nuus 08:00
BULLETIN 3 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê die ANC se tugkomitee moet toegelaat word om sy werk te doen
# Die Padongelukfonds het tans ‘n agterstand van meer as 320-duisend eise
# En Turkye staak alle handel met Israel oor die menslikheidstragedie in Gaza
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa sê die party se tugkomitee werk onafhanklik van alle ander strukture in die ANC. Dit volg nadat oudpresident Jacob Zuma gedaag is om komende Dinsdag voor die komitee te verskyn omdat hy die ANC-grondwet oortree het. Hy is in Januarie geskors nadat hy aangekondig het hy gaan die MK-party ondersteun. Ramaphosa het gister tydens die party se verkiesingsveldtog in die Wes-Kaap gesê die komitee se bevinding moet gerespekteer word:
# Die Padongelukfonds sê hy ondervind ‘n agterstand van 321-duisend eise. Meer as 200-duisend daarvan is ouer as drie jaar. Die fonds het ‘n veldtog, Drive Your Claim Forward, begin om eisers aan te moedig om die nodige uitstaande dokumente in te dien sodat die fonds hul eise kan ondersoek en uitbetaal. Die besturende hoof, Collins Letsoalo, sê die fonds is daartoe verbind om eise binne 120 dae af te handel, maar die nodige ondersteunende dokumente is noodsaaklik daarvoor.
# RISE Mzansi Jeug en sy Studente-afdeling eis dat die leerdervervoerstaking in die Oos-Kaap onmiddellik opgelos word. Talle vervoeroperateurs het gister begin staak omdat die provinsiale Vervoerdepartement nie hulle fooie betyds betaal nie. Die provinsiale Tesourie het vir die huidige boekjaar 725-miljoen-rand vir die leerdervervoerprogram bewillig. RISE Mzansi se woordvoerder, Lawrence Manaka, sê leerders word die meeste deur die staking geraak:
# Turkye het alle handel met Israel opgeskort oor die oorlog in Gaza, en sê dis weens die verswakkende menslike tragedie in Palestynse gebiede. Handel tussen die twee lande het verlede jaar byna 129-miljard-rand beloop. Die Turkse ministerie van Handel sê dit bly opgeskort tot Israel ononderbroke en voldoende hulp na Gaza toelaat. Israel se minister van Buitelandse Sake, Israel Katz, veroordeel die besluit en beskuldig die Turkse president Recep Tayyip Erdogan dat hy soos ‘n diktator optree.
# Tennis: Die wêreld se nommer een, Iga Swiatek, kom soos verlede jaar in die Madrid Ope se eindstryd teen die verdedigende kampioen, Aryna Sabalenka, te staan. Swiatek van Pole het die Amerikaner Madison Keys met 6-1 en 6-3 verslaan om haar derde eindstryd van die jaar te haal. Die tweede gekeurde Sabalenka van Belarus was een stel agter, maar het teruggeveg en Elena Rybakina van Kazakstan met 1-6, 7-5 en 7-6 geklop. Sabalenka sê sy verwag ʼn taai wedstryd teen Swiatek:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-969-dollar-78-sent. Die prys van goud is twee-duisend-301-dollar-9-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….