Nuus 08:00
BULLETIN 30 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Petrolpryse styg maar diesel daal môre
# ActionSA eis die terugtrekking van ‘n ANC-brief waarin diplomate versoek word om stemme te werf in die buiteland
# En tennis: Nadal voer ’n verbete stryd na die laaste 16 van die Madrid Ope
# Die Departement van Minerale en Energie sê die petrolprys styg môre met 37-sent per liter terwyl diesel tussen 30- en 36-sent per liter goedkoper sal wees. Die groothandelprys van paraffien daal met 19-sent per liter. Die departement sê die pryse word geraak deur die hoër olieprys en swakker rand. Hy voeg by petrolpryse styg hoofsaaklik weens die groter vraag tydens die reis-seisoen in die Noordelike Halfrond.
# ActionSA sê hy het ‘n hoogs ontstellende brief van die ANC-sekretaris-generaal se kantoor ontvang wat blykbaar by Suid-Afrikaanse ambassades gesirkuleer word. Volgens berigte word die land se diplomatieke korps in die brief opdrag gegee om die ANC-veldtog in die buiteland te steun. Solly Moeng van ActionSA sê al is Suid-Afrikaners gewoond aan die regering se onderduimshede tydens verkiesings, is dit een te veel om van die land se diplomatieke verteenwoordigers te verwag om in die buiteland stemme te werf:
# Die Nasionale Raad van Provinsies het die Wetsontwerp op Klimaatsverandering goedgekeur. Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Barbara Creecy, beklemtoon dat die wetsontwerp ‘n wettige raamwerk daarstel om bedrywighede wat tot klimaatsverandering bydra, te reguleer. Die wetsontwerp streef na ‘n doeltreffende reaksie oor die regering en die samelewing, om ‘n regverdige oorgang te verseker en groen ekonomie-geleenthede te kan aangryp. Creecy sê die wetsontwerp bevorder gekoördineerde klimaat-aksies om provinsiale en munisipale forums en duidelike raamwerke vir versagting, aanpassing en befondsing te vestig.
# Limpopo se LUR vir Gesondheid, Phophi Ramathuba, lei vanoggend die repatriasieproses om die oorskot van 45 burgers van Botswana na hul land terug te stuur. Die slagoffers is oor Paasnaweek in ʼn busongeluk dood. Hulle was op pad na ʼn kerkbyeenkoms toe die bus waarin hulle gereis het van die Mamatlakala-brug op die R-518 in Limpopo afgestort het. ʼn Jong kind was die enigste oorlewende. Die LUR se woordvoerder, Thilivhali Muavha, sê ʼn multidissiplinêre span het onverpoosd gewerk om die menslike oorskot te herwin en deur DNS-toetse positief uit te ken:
# Tennis: Die vyfmalige kampioen, Rafael Nadal, is deur na die laaste 16 by die Madrid Open terwyl hy van ʼn besering herstel. Hy het Pedro Cachin van Argentinië in net meer as drie ure met 6-1, 6-7 en 6-3 geklop. Die topgekeurde Italianer, Jannik Sinner, is steeds op dreef om sy vierde titel van die jaar te wen nadat hy die Rus, Pavel Kotov, met 6-2 en 7-5 verslaan het. Casper Rudd van Noorweë en Daniil Medvedev van Rusland spog ook met oorwinnings. Nadal vertel hoe hy die wedstryd beleef het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand teen die euro en 23-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-612-dollar-8-sent. Die prys van goud is twee-duisend-330-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….