Nuus 08:00
BULLETIN 29 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die onafhanklikheid van die regbank moet gerespekteer word
# Die Konstitusionele Hof sal volgende week die OVK se appèl oor Zuma se kandidatuur aanhoor
# En Rusland vat ’n gaping in Oekraïne voor Amerika se militêre hulp opdaag
# President Cyril Ramaphosa sê hy respekteer die Verkiesingshof se beslissing oor oudpresident Jacob Zuma se kandidaatskap. Die hof het beslis Zuma kwalifiseer om tot die Nasionale Vergadering verkies te word, ten spyte van sy vonnis van 15 maande tronkstraf weens minagting van die hof. Die Verkiesingskommissie appelleer teen die beslissing en voer aan Zuma se vonnis diskwalifiseer hom om as Parlementslid te dien. Ramaphosa het gister ná sy boodskap by ‘n ANC-saamtrek in die Vrystaat gesê hy kan nie voorspel wat die land se regters gaan besluit nie:
Die Konstitusionele Hof hoor intussen volgende week die Verkiesingskommissie se appèl aan. Die OVK appelleer teen die Verkiesingshof se beslissing dat Zuma geregtig is om te staan omdat hy nie kon appelleer teen die Konstitusionele hof se vonnis weens minagting van die hof nie. Die hof sê die OVK was verkeerd om Zuma van die stembrief te verwyder. Zuma en die MK-party moet môre dokumente indien om die OVK se appèl teen te staan.
# RISE Mzansi in Gauteng sê hy werk aan ʼn plan om teen hongersnood te veg. Sowat 35-persent van die provinsie se bevolking beleef voedselonsekerheid. Die party het onlangs plantjies aan ʼn groentetuin in Orange Farm geskenk. Tebogo Moalusi van RISE Mzansi sê die prys van die basiese kosmandjie moet gereguleer word om seker te maak dis bekostigbaar om aan alle mense se voedingsbehoeftes te voldoen:
# Die Instituut vir die Studie van Oorlog sê dit lyk of Russiese magte met mening gaan toeslaan in die komende weke om voordeel te trek uit die feit dat Oekraïne wag vir Amerikaanse militêre hulp om te arriveer. President Vladimir Putin se magte het op ten minste drie plekke aan die oostelike front in Oekraïne veld gewen die afgelope tyd. Die instituut sê dit lyk asof Russiese magte hulle pogings verskerp om Oekraïne se verdediging te destabiliseer en veld te wen. Verlede week het die Amerikaanse president Joe Biden ‘n buitelandse hulppakket van 1,81-duisend-miljard-rand aan Oekraïne, Israel en Taiwan onderteken.
# Sokker: Die heersende kampioen, Manchester City, is nou net een punt agter die Premierliga-voorlopers, Arsenal, ná ’n twee-nul-sege oor Nottingham Forest. Josko Gvardiol en Erling Haaland se doelskoppe het ʼn oorwinning verseker vir City, wat wil probeer om ʼn rekord- vierde agtereenvolgende sege te behaal. Intussen het Arsenal ʼn terugslag in die tweede helfte van die Noord-Londen-derby oorleef en Tottenham Hotspur met drie-twee geklop. Gunners se bestuurder, Mikel Arteta, sê hy is tevrede met sy span se veggees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-13-sent teen die euro en 23-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-632-dollar-88-sent. Die prys van goud is twee-duisend-327-dollar-15-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….