Nuus 08:00
BULLETIN 11 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê geen ontwikkelende staat kan sonder sterk universiteite en openbare navorsingsinstellings sukses behaal nie
# ‘n Senior Amerikaanse soldaat word in Brittanje vasgetrek oor beweerde spioenasie vir Rusland
# En tennis: Linda Noskova dring deur na die halfeindronde van haar eerste WTA-jaareindtoernooi
# President Cyril Ramaphosa vra sterker samewerking tussen die regering, universiteite en nasionale wetenskaps-rade om Suid-Afrika se ekonomiese probleme en werkloosheid te hanteer en vernuwing te bevorder. Hy het die presidensiële vergadering met universiteite se visekanseliers en nasionale wetenskaprade by die Uniegebou in Pretoria toegespreek. Ramaphosa sê geen ontwikkelende staat kan suksesvol wees sonder sterk universiteite en sterk openbare navorsingsinstellings nie. Hy erken kommer oor die finansiële volhoubaarheid van universiteite, onbestendige bestuur by hoër-onderwysinstellings en onvoldoende openbare en privaat belegging in navorsing.
# Die vakverbond SAFTU sê Suid-Afrika moet nooit massa-werkloosheid as normaal aanvaar nie omdat agter elke statistiek ‘n persoon is wat die reg ontneem word om vir hulleself en hul gesin te sorg. Die werkloosheidskoers was in die derde kwartaal 33,7-persent gestyg teenoor die 33.6-persent van die tweede kwartaal. Volgens die jongste Kwartaallikse Arbeidsmagopname is 8,6-miljoen mense tans werkloos. SAFTU se woordvoerder, Asive Dyani, sê die regering moet besuiniging laat vaar en ʼn befondste indiensnemingstrategie bekendstel wat ordentlike werk skep:
# ActionSA in KwaZulu-Natal sê hy het opbouende koalisie-gesprekke gevoer met die ANC en die MK-party. Verskeie munisipaliteite in die provinsie is onbeslis na die verkiesing, insluitend die eThekwini-metro, en ActionSA kan potensieel bepaal wie sommige rade beheer. Die party wag nog op teruvoering van die DA en die IVP. ActionSA se woordvoerder, Thobile Phantshi, sê verbeterde basiese dienslewering, geen verdraagsaamheid teenoor korrupsie en die afdwing van immigrasie-wetgewing is ononderhandelbaar:
Nuus uit die buiteland:
# ʼn Senior lid van die Amerikaanse Leër is deur Britse teenterrorisme-polisie aangekeer oor bewerings dat hy vir Rusland spioeneer. Die 41-jarige soldaat wat by Imjin-barakke in Innsworth, Gloucestershire, gestasioneer was, is naby Gloucester aangekeer. Die teenterrorisme-polisie het bevestig dit hou nie verband met enige ander voortgesette nasionale veiligheidsondersoeke nie. Die FBI se direkteur, Kash Patel, sê die buro toon geen verdraagsaamheid teenoor individue wat hul eed aan Amerika verbreek nie. Hy sê sulke optrede plaas Amerika en sy internasionale bondgenote se nasionale veiligheid in ernstige gevaar.
# Tennis: Die Wimbledon-kampioen, Linda Noskova, het die eerste speler geword om deur te dring na die halfeindronde van die WTA-jaareindtoernooi in Indian Wells, Amerika. Die 21-jarige Tsjeg, wat die eerste keer aan die toernooi deelneem, het die Amerikaner Coco Gauff in skoon stelle verslaan nadat sy in haar eerste wedstryd vir Marta Kostyuk van Oekraïne geklop het. Die Amerikaner Jessica Pegula het teruggeslaan na haar nederlaag teen Gauff en Kostyuk geklop, en kan steeds die voorlaaste ronde haal. Kostyuk is uitgeskakel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-50-sent teen die dollar, 18-rand-43-sent teen die euro en 22-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-728-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-49-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 94-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….