Nuus 0800
BULLETIN 9 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkminister Masemola waarsku onbesliste rade kan samestelling vertraag
# ‘n Vermeende sluipmoordenaar word vasgetrek vir die moord op Knysna se voormalige burgemeester
# En motorsport: Norris wen in São Paulo en Mercedes beklink die Formule Een-vervaardigerskampioenskap
# Die adjunkminister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Dickson Masemola, sê sy departement gaan met provinsiale regerings saamwerk om munisipale rade te vestig. Slegs 72 van die land se 257 munisipaliteite het volstrekte meerderhede opgelewer na verlede week se verkiesing, en politieke partye sal bestuursreëlings moet tref. Masemola erken die samestelling van koalisieregerings in sommige plaaslike owerhede kan die voorgeskrewe tydsduur vir die samestelling van munisipale rade beïnvloed. Hy het die publiek verseker sleutel-munisipale bedrywighede sal voortgaan tydens die oorgang.
Die voorsitter van die MK-party se nasionale tugkomitee, Dali Mpofu, sê intussen hulle het reeds voorlopige koalisiegesprekke met sommige politieke partye gevoer. Die party, wat aan sy eerste munisipale verkiesing deelgeneem het, het 9,76-persent van die stemme gekry wat dit landwyd die derde grootste party maak naas die ANC en die DA. Die MK-party het in drie munisipaliteite ‘n volstrekte meerderheid behaal. Mpofu sê hulle onderhandelinge sal gelei word deur die party se politieke mandaat en ʼn interne koalisie-handleiding:
# Die taakspan oor politieke moorde het ʼn 44-jarige vermeende sluipmoordenaar aangekeer in verband met die moord op die voormalige burgemeester van Knysna, Aubrey Tsengwa. Hy is in Augustus in Joodsekamp in die dorp doodgeskiet terwyl hy saam met drie ander mense was, wat die aanval oorleef het. Nog drie verdagtes is dae na die moord vasgetrek. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê die vermeende sluipmoordenaar verskyn vandag in die plaaslike Landdroshof:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse tegnologie-reus, Nvidia, het ʼn onafhanklike ondersoek begin na sy stigter en uitvoerende hoof, Jensen Huang, oor kommer dat hy die teiken was van buitelandse intelligensie. ʼn New York Times-berig het verlede maand beweer die 63-jarige Huang het ʼn verhouding met ʼn Chinese sakevrou gehad wat inligting aan Beijing verskaf het. Die maatskappy, wat rekenaarskyfies vir die kunsmatige intelligensie-bedryf vervaardig, sê hy het geen rede om te glo sy geheime of nasionale veiligheid is in gevaar gestel nie. Huang het in ʼn kennisgewing aan personeel erken hy het ʼn buite-egtelike verhouding gehad.
# Motorsport: Die McLaren-renjaer Lando Norris het ná ʼn teleurstellende wegspring in nat toestande herstel en die Brasiliaanse Formule Een Grand Prix in São Paulo gewen. Max Verstappen, wat in die 21ste plek weggespring het, was tweede en sy Red Bull-spanmaat Isack Hadjar derde, gevolg deur George Russell en die nuwe wêreldkampioen, Kimi Antonelli. Mercedes het die vervaardigerskampioenskap die negende keer beklink, wat die rekord ewenaar. Mercedes se spanhoof, Toto Wolff, is trots op hulle prestasie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 18-rand-39-sent teen die euro en 22-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-en-14-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-119-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 101-dollar-9-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….