Nuus 08:00
BULLETIN 6 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Altesaam 21 polities gemotiveerde moorde is tydens die verkiesing aangemeld
# Tshwane sê verskeie reservoirs is steeds op krities lae vlakke
# En die Demokratiese Party het sy grootste meerderheid in die Huis sedert 2008
# Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur sê 21 moordsake wat met politieke motiewe verband hou, is tydens die verkiesingstydperk geregistreer. Dit sluit in die moord op ‘n MK-partylid in KwaZulu-Natal, ʼn ANC-raadslid in die Oos-Kaap en ʼn EFF-lid in Polokwane, Limpopo. NATJOINTS se voorsitter, Tebello Mosikili, sê 85 voorvalle is op stemdag aangemeld, waarna 57 dossiere geopen en 27 mense gearresteer is:
# Die SAKP se vertoning in die plaaslikeregeringsverkiesing het mense verras nadat hulle kiesers uit die ANC se ondersteuningsbasis gelok het. Die party het die eerste keer onafhanklik aan ʼn verkiesing deelgeneem. Volgens voorlopige uitslae het die SAKP nasionaal 2,48-persent stemme gekry en in die Oos-Kaap, ʼn ANC-vesting, is hy tans derde met 6,03-persent van die stemme. Die party word ook in Limpopo en Noordwes goed ondersteun. Mbulelo Mandlana van die SAKP sê hulle is nie verbaas oor die uitslae nie:
# Die Stad Tshwane sê watervoorsiening in Streke 1, 3, 4 en 6 toon dat ‘n groot deel van die netwerk bestendig is, hoewel verskeie reservoirs se watervlakke laag of kritiek laag is. Die gebiede wat geraak word, sluit in Mamelodi, Eersterust, Brakfontein, Magalies en Rosslyn. Die metro se woordvoerder, Lindela Mashigo, sê hoë verbruik, tesame met beperkte watervolumes wat die stelsel binnekom en lae druk, vertraag steeds die herstel in sommige gebiede. Hy waarsku dat vordering in ‘n groot deel van die netwerk steeds kwesbaar is vir veranderinge in die vraag en die watertoevoer:
# Die Demokratiese Party het reeds meer as 250 setels in die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers – die grootste meerderheid sedert 2008. Sewe-en-twintig streke moet nog verklaar word. Die party het ses setels in die Huis gekry na Dinsdag se middeltermynverkiesing, en hul voorsprong in die laer huis tot 253 teenoor die Republikeine se 155 vergroot. Dit sluit kongres-distrikte in New York, Arizona, New Jersey, Noord-Carolina, Ohio en Colorado in. In die Senaat het die Demokrate reeds 54 setels teenoor 44 vir die Republikeine, met Alaska en Mississippi nog uitstaande.
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter Pitso Mosimane het ’n sterk groep van 27 spelers gekies vir die twee kwalifiserende wedstryde dié maand in die 2027-Afrikabeker teen Kenia. Die doelskieter Lyle Foster van Houston Dynamo en Mbekezeli Mbokazi van Chicago Fire is weer in die span opgeneem, terwyl die voorspeler Siyanda Ndlovu beloon is vir sy vertonings by Mamelodi Sundowns. Mosimane het besluit om die doelwagter en kaptein, Ronwen Williams, asook die middelveldspeler Teboho Mokoena in te sluit, ondanks onlangse knaende beserings. Suid-Afrika is volgende Vrydag die gasheer vir Kenia v in Johannesburg, voor hulle vier dae later na Nairobi reis vir die volgende wedstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-51-sent teen die dollar, 18-rand-50-sent teen die euro en 22-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-849-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-50-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 103-dollar-31-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….