Nuus 08:00
BULLETIN3 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering erken die kommer oor AGOA
# ’n Russiese bomaanval op ’n hulpsentrum in Oekraïne eis die lewens van 26
# En krieket: Australië se vrouespan toer vanaf 24 Maart deur Suid-Afrika
# Die regering erken werkers, uitvoerders en sakeondernemings se kommer nadat Amerika besluit het om Suid-Afrika van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika uit te sluit. Die land verloor volgende jaar sy belastingvrye marktoegang na Amerika, nadat Washington bevind het Pretoria se beleide is strydig met AGOA se vereistes. Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê ten spyte van die regering se toegewings en hantering van Amerika se kommer, is daar nou nuwe kwessies. Hy sê die regering sal voortgaan om die land se uitvoermarkte uit te brei.
Solidariteit sê intussen Amerika se besluit hou regstreeks verband met die regering se versuim om die verslegtende diplomatieke verhouding met Washington te herstel. Suid-Afrikaanse goedere sal van 2027 af aan hoër tariewe blootgestel wees. Jaco Kleynhans van Solidariteit sê president Cyril Ramaphosa en die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, het herhaalde waarskuwings geïgnoreer:
# Die Wes-Kaapse regering en die Stad Kaapstad het ondernemings deur die taxi-verenigings CATA en CODETA verwelkom om geweld in die minibustaxi-bedryf te beëindig. Geweld rondom betwiste roetes in Delft, Langa en Epping, het verlede week 12 lewens geëis ná groeiende spanning die afgelope maand tussen die mededingende verenigings. Die LUR vir Mobiliteit, Isaac Sileku, sê albei verenigings het ingestem om deel te neem aan ‘n proses waartydens onafhanklike fasiliteerders sal help om kwessies in die bedryf te bespreek en op te los:
# Ses-en-twintig mense is dood na ‘n Russiese aanval op ʼn skool wat as verspreidingsentrum vir humanitêre hulp gebruik is in die dorp, Komyshuvakha, in Oekraïne se suidelike Zaporizhzhia-streek. Vier polisiebeamptes en twee lede van ʼn reddingspan is onder die slagoffers. Vyf ander mense is volgens berigte beseer. Oekraïne se president Volodymyr Zelensky sê dis nog ʼn teken dat Rusland nie aanvalle wil afskaal nie. Vandag is verklaar as ʼn amptelike dag van rou in die hele Zaporizhzhia-streek.
# Krieket: Australië se vrouespan sal Suid-Afrika volgende jaar besoek vir drie T20-wedstryde, drie eendagwedstryde en een toetswedstryd. Die datums is verskuif nadat bevestig is die eerste Vrouekampioenetrofee sal vanaf 14 tot 28 Februarie in Indië plaasvind. Die T20-wedstryde word in Maart in Kimberley, Benoni en Oos-Londen gespeel, gevolg deur eendagwedstryde in April in Gqeberha, die Paarl en Durban. Die toetswedstryd begin op die 15de in KuGompo-stad, wanneer Buffalo Park vir die eerste keer ‘n toetswedstryd vir vroue sal aanbied.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-61-sent teen die dollar, 18-rand-57-sent teen die euro en 22-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-822-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-936-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 108-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….