Nuus 08:00
BULLETIN 2 November 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK doen ‘n beroep op kiesers wat goedgekeur is vir huisbesoeke, om by hul geregistreerde adresse te bly
# Nog drie verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die Marx-plaasaanval
# En motorsport: Antonelli word gekroon as die jongste F1-kampioen in die geskiedenis
# Die Verkiesingskommissie sê hulle sal spesiale stemme veilig berg en nagaan voor dit by stemme getel word wat kiesers Woensdag op Verkiesingsdag uitbring. Sowat 2,6-miljoen Suid-Afrikaners sal na verwagting vandag en môre hulle spesiale stemme uitbring. Van die goedgekeurde gevalle sal 1,9-miljoen by aangewese stemlokale stem, terwyl OVK-beamptes die res by hul geregistreerde adresse sal besoek. Die OVK se hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, waarsku dat beamptes nie sal terugkeer na huisadresse indien die goedgekeurde kiesers nie tuis is nie:
Intussen voorspel die onafhanklike data-ontleder Michael O’Donovan ‘n rekord-lae kiesersopkoms in die plaaslikeregeringsverkiesing en verwag minder as die helfte van die geregistreerde kiesers sal deelneem. Altesaam 29-miljoen Suid-Afrikaners is geregistreer om te stem. Hy sê dit word al hoe moeiliker om ‘n party te kies, aangesien stempatrone verander het. O’Donovan neem Johannesburg as voorbeeld en voer aan kiesers kom voor moeilike keuses te staan ten opsigte van dienslewering, gemeenskapsdeelname en etiese leierskap, wat baie mense moontlik kan ontmoedig om te stem.
# Die polisie in Noordwes het nog drie verdagtes aangekeer in verband met verlede Woensdag se gewelddadige plaasroof en poging tot moord in Syferfontein, Ventersdorp. Dit bring die totale aantal verdagtes op vyf te staan. Die 50-jarige Donovan Marx is op sy plaas geskiet en wreed aangerand, waarna die verdagtes met vuurwapens en sy bakkie gevlug het. Polisiewoordvoerder Adele Myburgh sê die polisie het tydens die arrestasie van die drie verdagtes beslag gelê op vier vuurwapens, waarvan twee met die Ventersdorp-voorval verbind word, asook kledingstukke en juweliersware:
# Agt mense, insluitend ‘n kind, is gister in Israelse aanvalle in Gaza dood en ses is beseer, ten spyte van ʼn skietstilstand wat verlede jaar in Oktober ingestel is. Volgens Gaza se binnelandse ministerie was vyf polisiebeamptes wat met gewone pligte in Al-Mawasi besig was. In ʼn ander aanval is drie Palestyne, onder andere ʼn pa en sy vierjarige seun, langs ʼn skool in Gaza-stad dood. Israel se weermag sê hy het twee aanvalle uitgevoer op wat hy beskryf as militêre agente.
# Motorsport: Die 20-jarige Kimi Antonelli het in sy tweede seisoen sy eerste Wêreld-bestuurderskampioenskap opgeraap en die jongste Formule Een-kampioen in die geskiedenis geword. Die Mercedes-renjaer het derde klaargemaak by die Mexiko-stad Grand Prix om die titel te buit met vier wedrenne wat hierdie seisoen oorbly. Max Verstappen van Red Bull het die wedren gewen en Lewis Hamilton van Ferrari was tweede. Antonelli, wat ook die eerste Italiaanse wêreldkampioen is sedert Alberto Ascari in 1953, sê hierdie is net die begin:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-71-sent teen die dollar, 18-rand-66-sent teen die euro en 22-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-467-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-899-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 114-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….