Nuus 08:00
BULLETIN 18 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag sê meer moet gedoen word om geregtigheid vir geslagsgeweldslagoffers te verseker
# Die Kabinet keur die finale witskrif oor die migrasiebeleid goed
# En ‘n peiling bevind 74% van Israeli’s keur ‘n vergeldingsaanval teen Iran af
# Die nasionale direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, sê verkragting en moord op vroue is kenmerkend van ‘n samelewing wat geen sin van menslikheid het nie. Sy het die moderne Thuthuzela-sorgsentrum vir slagoffers van geslagsgeweld in Stellenbosch geopen. Batohi sê die Nasionale Vervolgingsgesag het landwyd ‘n skuldigbevindingskoers van minstens 70-persent in howe vir seksuele misdrywe. Sy voeg egter by indien onaangemelde gevalle ingesluit word, daal die syfer dramaties tot onder tien-persent en dié kwessie moet dringend aandag kry.
# Die minister van Binnelandse Sake, Aaron Motsoaledi, sê die Kabinet het die finale witskrif oor die migrasiebeleid goedgekeur, wat daarop gemik is om burgerskap- en immigrasie-uitdagings aan te spreek. Die witskrif is daarop gemik om die Burgerskapswet en ander wette wat burgerskap en migrasie beheer, te hersien. Die beleid stel voor die 1951-Vlugtelingkonvensie moet hersien en moontlik onttrek word. Motsoaledi het op ‘n nuuskonferensie beweer Suid-Afrika het in 1996 tot internasionale ooreenkomste toegetree sonder ‘n duidelike migrasiebeleid:
# Die Stad Johannesburg sê hy is bly die oppergesag van die reg het geseëvier teen groot sakeondernemings en reuse-woonlandgoedere wat nie vir munisipale dienste wil betaal nie. Die Hooggeregshof in Johannesburg het ten gunste van die stad beslis teen Malakite Body Corporate and Greenstone Crest Body Corporate. Die stad se woordvoerder, Nkosana Lekotjolo, sê die twee het geappelleer teen ʼn vroeëre uitspraak dat die metro reg was om saketariewe te hef:
# ʼn Meningspeiling deur die Hebreeuse Universiteit in Jerusalem het bevind 74-persent deelnemers is gekant teen ʼn vergeldingsaanval op Iran indien dit Israel se sekerheidsalliansie met sy bondgenote sou ondermyn. Ses-en-twintig-persent is ten gunste van ʼn aanval selfs al sou dit bande met bondgenote laat skade ly. Die meningspeiling toon ook 56-persent deelnemers glo Israel moet positief reageer op politieke en militêre eise van sy bondgenote. Dit volg nadat eerste minister Benjamin Netanyahu wraak gesweer het ná Iran se ongekende missiel- en hommeltuigaanval die naweek.
# Sokker: Die 14-malige wenners van die Kampioeneliga, Real Madrid, het die heersende kampioene, Manchester City, met strafdoele geklop en op vier-drie uitgeskakel in hulle tweede kwarteindronde-wedstryd by die Etihad-stadion. Die wedstryd het met een elk geëindig en die spanne was gelykop met vier elk in totaal, waarna Antonio Rudiger die wendoel aangeteken het. In Duitsland het Joshua Kimmich se doel aan Bayern Munich ʼn oorwinning van een-nul teen Arsenal besorg en ʼn totale sege van drie-twee. Arsenal se bestuurder, Mikel Arteta, het sy teleurstelling uitgespreek:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-99-sent teen die dollar, 20-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-en-96-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-374-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….