Nuus 08:00
BULLETIN 15 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Thuli Madonsela waarsku daarteen om vir korrupte politici soos Zuma te stem
# Die MK-party ruk op na die verkiesingskommissie se kantoor oor vooroordeel
# En Donald Trump se swyggeld-verhoor begin vandag in New York
# Die gewese Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, het Suid-Afrikaners gewaarsku om nie in volgende maand se verkiesing vir korrupte politici soos oudpresident Jacob Zuma te stem nie. Zuma het verlede maand gesê hy verstaan nie waarom presidente volgens wet net twee termyne mag dien nie en sê hy het nog onafgehandelde sake in die president se kantoor. Madonsela sê landsburgers moenie vergeet dat Zuma die een is wat die land aan die Guptas verkoop het nie en waarsku hy sal die land laat ineenstort indien hy weer ‘n amp in die staatsdiens beklee.
# Die MK-party sê hy beplan om Vrydag na die Verkiesingskommissie se kantore in Centurion op te ruk. Die OVK het hom verlede week tot die Konstitusionele Hof gewend in ‘n poging om die voormalige president Jacob Zuma van die party se parlementêre kadidaatslys af te kry. ‘n MK-woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, sê hulle wil hê die OVK se kommissaris, Janet Love, moet verwyder word, weens beweerde vooroordeel en wanoptrede:
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa sê die regering gee aandag aan elektrisiteitsprobleme in Orange Farm, suid van Johannesburg. Hy het gister ʼn verkiesingsveldtog in die gebied gevoer. Die provinsiale regering het verlede jaar sy multimiljoen-rand-program om transformators te vervang, as ʼn belangrike diensleweringsinisiatief bekendgestel. In sommige townships ontplof of breek transformators weens onwettige verbindings, en oorlading ná hoë aanvraag. Ramaphosa sê daar is vordering gemaak met die installering of vervanging van transformators in Orange Farm:
# Oudpresident Donald Trump, se swyggeld-verhoor begin vandag in New York met die aanwysing van die jurie. Hy staan tereg op 34 aanklagte van vervalsing van sy sakerekords om ‘n swyggeld-betaling te verdoesel wat kort voor die 2016-verkiesing aan die voormalige seks-ster, Stormy Daniels, gemaak is. Trump, die eerste voormalige Amerikaanse president wat in ‘n strafsaak teregstaan, het onskuldig gepleit. Indien die 77-jarige skuldig bevind word, staar hy ‘n maksimum van vier jaar tronkstraf óf ‘n groot boete in die gesig.
# Sokker: Arsenal en Liverpool se hoop vir die titel het ‘n groot knou gekry met hulle Premierliga-nederlae. Aston Villa het ‘n twee-nul-oorwinning teen die Gunners op die Emirates behaal, terwyl die Reds een-nul verloor het teen Crystal Palace op Anfield. Arsenal en Liver-pool is nou twee punte agter die heersende kampioene, Manchester City, met ses wedstryde oor. Arsenal se bestuurder, Mikel Arteta, sê hy is teleurgesteld dat hulle nie hul kanse benut het nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-83-sent teen die dollar, 20-rand-6-sent teen die euro en 23-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-262-dollar-95-sent. Die prys van goud is twee-duisend-357-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….