Nuus 08:00
BULLETIN 25 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# COSATU vra vir ‘n nuwe munisipale befondsingsmodel om plaaslike regering reg te ruk
# Die MK-party betwis die OVK se verwerping van kandidaatlys-regstellings
# En die landwye betogings in Frankryk verloop grotendeels vreedsaam
# COSATU sê ‘n nuwe munisipale befondsingsmodel is nodig om te verseker dat die Hersiene Witskrif oor Plaaslike Regering munisipaliteite kan bestendig en herbou. Die witskrif stel ingrypings voor om plaaslike regering te verbeter en te verseker dat gemeenskappe munisipale dienste ontvang, insluitend gratis basiese dienste vir behoeftige huishoudings. COSATU-woordvoerder Matthew Parks sê bekwame en gekwalifiseerde bestuurders en leiers moet aangestel word, terwyl korrupte en misdadige elemente uit munisipaliteite verwyder moet word:
# Die MK-party het die Verkiesingskommissie se weiering veroordeel om hul versoeke te akkomodeer vir die regstelling en wysiging van hul kandidaatlyste vir die komende plaaslikeregeringsverkiesing. Die party sê die versoek sluit in die plasings van wykskandidate, weggelate kandidate en kandidate wat oorlede is, en voer aan dit raak hul verkiesingsvoorbereidings en deelname. Die OVK het die wysigings verwerp, na aanleiding van die Konstitusionele Hof se uitspraak in die ANC-saak wat volgens hulle nie die benoemingsproses heropen het nie, behalwe vir die herstel om nominasies wat reeds voor die sperdatum op hul aanlyn stelsel vasgelê is.
# Die geskorste polisiesersant, Fannie Nkosi, het uit die polisiediens bedank te midde van ernstige wangedragbewerings en hangende dissiplinêre verrigtinge. Nkosi, wat verbonde was aan die Gautengse Georganiseerde Misdaadeenheid, staar strafregtelike aanklagte van diefstal, bedrog en regsverydeling in die gesig. Die aanklagte volg op ‘n polisie-klopjag by sy huis in Pretoria-Noord, waar beamptes na bewering polisiedossiere, ammunisie, vuurwapenverwante items en kontant gevind het. Nkosi is ook gekoppel aan bewerings wat tydens die Madlanga-kommissie ontbloot is.
# Die Stad Tshwane het die waarskuwing opgehef om die water van die Findlay-reservoir vir die Pretoria-middestad en omliggende gebiede te kook. Die burgemeester Nasiphi Moya het die besluit bevestig nadat monitering van watergehalte en laboratoriumtoetse geen opspoorbare E. coli of koliform-bakterieë in die jongste monsters van die reservoir gevind is nie:
# Honderdduisende betogers het gister in Frankryk opgeruk, in meestal vreedsame saamtrekke wat ontaard het in botsings in Parys en Marseille ná donker. Franse wetstoepassingsagentskappe het meer as 70-duisend polisiebeamptes regoor die land ontplooi om ‘n herhaling van verlede week se geweld te voorkom. Die ministerie van Binnelandse Sake het gesê meer as 400-duisend mense het aan die betogings deelgeneem, hoewel vakbonde glo die ware syfer is twee keer so hoog. Die hoofbetoging het aan die suidoostelike rand van Parys uitgebreek, waar minstens 110-duisend mense opgedaag het om teen stygende lewenskoste en groeiende ongelykheid te betoog.
# En rugby: Die Stormers het gisteraand die Scarlets in Kaapstad met 52-40 in ‘n opwindende kragmeting in die vierde ronde van die Verenigde Rugbykampioenskap geklop. Die tuisspan was teen rustyd met 33-14 voor, maar die Walliese besoekers het teruggeveg om die telling met 15 minute voor die einde met 40-elk gelykop te maak. Die plaasvervanger-skrumskakel Yaqeen Ahmed was die held van die wedstryd met twee laat drieë om die Stormers van ‘n oorwinning met ‘n bonuspunt te verseker. Die Stormers het ‘n onoorwonne rekord van ses wedstryde teen die Scarlets.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….