Nuus 08:00
BULLETIN 11 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê Mapisa-Nqakula se bedanking onthef haar nie van aanspreeklikheid nie
# Die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders word beveel om die tugstappe teen twee onderwysers te heroorweeg
# En Biden beloof om Israel te beskerm te midde van vrese vir ‘n vergeldingsaanval deur Iran
# Die DA oorweeg sy opsies nadat die Parlementêre Komitee oor Magte en Voorregte besluit het om nie voort te gaan met die ondersoek na die gewese speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, nie. Dit hou verband met haar rol in die parlementêre sekretaris, Xolile George, se salarisverhoging van 70-persent kort na sy aanstelling. Die komitee sê die speaker het bedank en daarom het hy nie meer jurisdiksie oor haar nie. Annelie Lotriet van die DA sê Mapisa-Nqakula moet steeds aanspreeklik gehou word:
# Section27 en die Sentrum vir Kinderregte het die Appèlhof se uitspraak verwelkom in die saak teen die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders. Die Hof het die SARO gelas om die straf te heroorweeg wat opgelê is teen twee onderwysers wat leerders in afsonderlike voorvalle in Gauteng en Limpopo aangerand het. Die onderwysers het identiese strawwe ontvang in weerwil van die erns van die aanrandings wat nie vergelykbaar was nie. Die hof het bevind die raad se uitoefening van dissipline moet gelei word deur sy grondwetlike verpligting oor die belangrikheid van kinderregte.
# Die Hooggeregshof in Polokwane, Limpopo, sal vandag die vyf mans vonnis wat skuldig bevind is aan die moord op die Collins Chabane-burgemeester, Moses Maluleke. Hy is in Julie 2022 voor sy seun doodgeskiet by sy huis in die Xikundu-nedersetting. Die Nasionale Vervolgingsgesag se streekswoordvoerder, Mashudu Malabi-Dzhangi, sê die hof het bevind die staat het bo redelike twyfel bewys dat die beskuldigdes se oortredings vooraf beplan was:
# President Joe Biden van Amerika het gewaarsku Iran dreig met ‘n groot wraakaanval op Israel ná ʼn bomaanval op ʼn Iranse konsulêre gebou in Damaskus. Dertien mense waaronder senior Iranse militêre leiers is verlede Maandag in die aanval dood. Israel het nog nie amptelik aanspreeklikheid vir die aanval aanvaar nie, maar daar word wyd bespiegel dat hy daarvoor verantwoordelik was. Biden sê Amerika is onlosmaaklik verbind tot Israel se veiligheid teen hierdie dreigemente deur Iran en sy vennote.
# Krieket: Die Gujarat Titans het die voorlopers Rajasthan Royals hulle eerste nederlaag in vanjaar se Indiese Premierliga-veldtog besorg deur hulle met drie paaltjies te wen. Riyan Parag het 76 bygedra tot die Royals se telling van 196 vir drie in hulle 20 boulbeurte. In antwoord daarop het kaptein Shubman Gill die basis gelê met sy 72. Met 40 lopies wat kort en 15 balle oor, het Rashid Khan en Rahul Tewatia kragte saamgesnoer en die oorwinning met die laaste bal behaal. Khan is tevrede met die sege:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-13-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-933-dollar-6-sent. Die prys van goud is twee-duisend-344-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….