Nuus 08:00
BULLETIN 10 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Jacob Zuma se privaat vervolgingsbeslissing is volgende week
# Die Tesourie bewillig nog ramphulpfondse vir verskeie provinsies
# En, sokker: Banyana Banyana kon nie kwalifiseer vir die Olimpiese Spele nie
# Die Hooggeregshof in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, lewer Woensdag uitspraak oor die private vervolging van oudpresident, Jacob Zuma, wat moontlik die hervatting van sy wapentransaksieverhoor weens korrupsie en bedrog kan beïnvloed. Zuma het die saak teen die staatsaanklaer, Billy Downer, voortgesit en beskuldig hom daarvan dat hy sy mediese rekords aan die joernalis, Karyn Maughan, gelek het. In afwagting op die beslissing van die Konstitusionele Hof, dring Zuma se prokureur aan die saak moet eers afgehandel word nadat alle appèlle afgehandel is. Zuma se appèlle is reeds twee keer deur die Appèlhof van die hand gewys.
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Thembi Nkadimeng, sê die toekenning van ramptoelaes gaan gepaard met streng verslagdoening- en nakomingsmaatreëls om deursigtigheid en aanspreeklikheid te verseker. Die Nasionale Tesourie het 1,844-miljard-rand vir die 2023/2024-boekjaar toegeken om die gevolge van rampe in verskeie provinsies, insluitend die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap te hanteer. Nkadimeng sê die fondse moet gebruik word vir dringende herstel- en herbouwerk, asook die opknapping van infrastruktuur.
# Die George-munisipaliteit gaan vandag voort met opruimingswerk ná oorstromings in dele van die Wes-Kaapse dorp. Die rampbestuursdienste sê dele van die dorp het meer as 100 millimeter reën gehad en die Tuinroete-dam loop oor. Huise en paaie is oorstroom asook die Wildernis Dorpsdepot en waterbehandelingsaanleg. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsveiligheid, Marais Kruger, sê die nat en koue toestande sal die volgende paar dae voortduur, maar geen verdere uiterste reënval word verwag nie:
# Die Michigan-skoolskieter se ouers is elk tot tronkstraf van 10 tot 15 jaar gevonnis nadat hulle skuldig bevind is aan onopsetlike manslag. James en Jennifer Crumbley se seun Ethan het in November 2021 met ‘n wapen van die huis af vier leerders by die Oxford High School doodgeskiet. Hulle is die eerste ouers in Amerika wat aanspreeklik gehou word vir ʼn kind se massaskietery by ʼn skool. Regter Cheryl Matthews sê die vonnis behoort as afskrikmiddel te dien om skietvoorvalle by skole in die toekoms te voorkom:
# Sokker: Die Afrika-kampioene, Banyana Banyana, kon nie vir die Olimpiese Spele in Parys kwalifiseer nie nadat hulle op Loftus Versveld in Pretoria sonder enige doele gelykop geëindig het teen Nigerië. Die span kon nie verlede week se een-nul-nederlaag in die eerste deel in Abuja omkeer nie. Dis die tweede agtereenvolgende keer dat Banyana nie vir die Olimpiese Spele kwalifiseer nie. Hulle het die 2020-Spele in Tokio ook misgeloop. Afrigter Desiree Ellis sê hulle is teleurgesteld:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-44-sent teen die dollar, 20-rand-2-sent teen die euro en 23-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-996-dollar-39-sent. Die prys van goud is twee-duisend-351-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 89-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….