Nuus 08:00
BULLETIN 23 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa erken tekortkominge met die toekenning van begenadigings
# Die regering ondersoek 134 gevalle van maagdermsiekte in die Oos-Kaap
# En in motorsport: Antonelli mik vir ‘n perfekte naweek in Austin
# President Cyril Ramaphosa het verskoning gevra en erken dis grondwetlike versuim dat Simon Mofokeng en wyle Tshokolo Joseph Mokoena se hofsake nie hanteer is nie. Hulle was 19 jaar in die tronk nadat hulle verkeerdelik skuldig bevind is aan die moord in 1992 op ‘n polisiebeampte in die Vrystaat. Die Konstitusionele Hof het vroeër die week eenparig bevind Ramaphosa en drie van sy voorgangers, Thabo Mbeki, Kgalema Motlanthe en Jacob Zuma, het versuim om hul grondwetlike verpligtinge na te kom deur ʼn gesamentlike presidensiële kwytskelding 24 jaar lank te vertraag. Ramaphosa sê dit was “uiters betreurenswaardig”.
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê Suid-Afrika wil China se zero-tarief beleid vir Afrikalande gebruik vir meer uitvoere, plaaslike vervaardiging en werkskepping. China het die eensydige voorkeurskema bekendgestel wat belastingvrye toegang bied vir alle produkte, behalwe 47 tarief-lyne wat onderworpe sal wees aan tariefkoers-kwotas, vir die tydperk van 1 Mei vanjaar tot 30 April 2028. Tau sê die totale bilaterale handel tussen die twee lande was in 2025 642-miljard-rand, teenoor 483-miljard-rand in 2021:
# Die regering ondersoek 111 gevalle van mense met maagdermsiekte aan die Rhodes-universiteit in Makhanda, asook 23 gevangenes in die St Albans-korrektiewe sentrum in Nelson Mandelabaai, Oos-Kaap. Die aangemelde gevalle ervaar almal simptome soos erge buikkrampe, diarree, braking en dehidrasie. Die woordvoerder vir die Departement van Water en Sanitasie, Wisane Mavasa, sê hulle wag nog op die uitslae van laboratoriumtoetse, maar voorlopige bevindings dui egter daarop dat die verspreiding tans tot die universiteit en die gevangenis beperk is.
# ʼn Federale regter het president Donald Trump van Amerika beveel om teen 11 Desember ʼn beëdigde verklaring af te lê oor sy lastersaak van 164,95-miljard-rand teen die BBC, of sanksies te verwag. Trump eis skadevergoeding oor ʼn Panorama-episode wat twee verskillende dele van ʼn toespraak, wat hy voor die Kongresgebou-betogings in 2021 gelewer het, saamgevoeg het. Hy het sy getuienisaflegging op 16 Oktober gekanselleer met “sake van nasionale belang” as rede, maar het dié dag in Georgia ʼn veldtog gevoer. Die BBC sê die hofsaak moet uitgegooi word en sê die program voldoen nie aan regsvereistes vir laster nie.
# Motorsport: Mercedes-renjaer Kimi Antonelli sê ʼn droom sal waar word as hy sy eerste Formule Een-titel die naweek by die Amerikaanse Grand Prix kan opraap. Die Italianer loop in die Bestuurderskampioenskap voor met 102 punte, die hoogste van die seisoen. Om Sondag die wêreldkampioen te word, sal Antonelli die wedren moet wen en hoop spanmaat George Russell eindig nie hoër as negende nie, en Lewis Hamilton van Ferrari eindig vyfde of laer. Antonelli sê hy wil dit net geniet:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-50-sent teen die dollar, 18-rand-51-sent teen die euro en 22-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-636-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-14-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 114-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….