Nuus 08:00
BULLETIN 9 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Hoofregter Zondo sê die aanvalle op die regbank is ongeregverdig
# Die MK-party kritiseer die afleggings by die Suid-Afrikaanse Poskantoor
# En miljoene in Mexiko, die VSA en Kanada het ‘n algehele sonsverduistering aanskou
# Hoofregter Raymond Zondo sê die aanvalle op die onafhanklikheid van die regbank en sy rol in demokrasie is ongeregverdig. Oudpresident Jacob Zuma en die EFF-leier Julius Malema is ván die individue wat die regbank aangeval het en regters daarvan beskuldig dat hulle politieke agendas het. In ‘n eksklusiewe onderhoud met eNCA sê Zondo, die aanvalle op die regbank is deur mense met persoonlike agendas wat probeer om howe se werk ongedaan te maak:
# Die uMkhonto we Sizwe-party sê die aflegging van vier-duisend-700 personeellede by die Suid-Afrikaanse Poskantoor is nie net koudhartig nie, maar ook roekeloos in dié tyd. Die posverminderings is minder as die ses-duisend wat aanvanklik beplan was, ná oorlegpleging met vakbonde by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie. Die Poskantoor sal ses-duisend-383 personeellede oorhê, teenoor elf-duisend-en-83 voor die afleggings. Die MK-party sê die afleggings is tekenend van ‘n breër patroon van sistemiese disinvestering en aftakeling van staatsondernemings onder die ANC-regering.
# Johannesburg Water het met ‘n interne ondersoek begin ná die dood van ‘n vierjarige seun, wat die naweek by ‘n uitgrawingsterrein in die Clay Oven -informele nedersetting ingeval het. Die burgemeesterskomiteelid vir Omgewing- en Infrastruktuurdienste, Jack Sekwaila, sal vandag die seun se familie ontmoet. Hy sê hulle werk ten volle saam met wetstoepassingsowerhede.
# Sokker: Engeland se Premierliga het nog twee punte afgetrek van Everton vir die verbreking van winsgewendheid- en volhoubaarheidsreëls. Die besluit laat die klub net twee punte bo die relegasiesone nadat hulle vroeër met ses punte gestraf is. Die liga sê die jongste straf is opgelê nadat Everton erken het hulle het die toegelate besteding van ‘n 3,4-miljard-rand verlies oor drie seisoene met 390-miljoen-rand oorskry. Die klub skryf dit toe aan faktore soos die verlies aan ‘n borgskap weens Rusland se inval in Oekraïne.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-63-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-58-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-465-dollar-63-sent. Die prys van goud is twee-duisend-343-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 90-dollar-62-sent per vat.
# En ten slotte: Miljoene mense regoor Mexiko, die VSA en Kanada het gister ‘n algehele sonsverduistering aanskou. ‘n Geraamde 32-miljoen mense het toegang gehad tot die baan waarin die maan tussen die aarde en die son beweeg en sy lig volledig verskans het. Die adjunkhoof van die Nasionale Lugvaart- en Ruimte-administrasie, Pam Melroy, sê die verduistering was ‘n uitsonderlike geleentheid vir wetenskaplikes om data in te samel en die aarde, maan en son op verskillende maniere te bestudeer:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….