Nuus 08:00
BULLETIN 22 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die mini-begroting sal sleutel-ekonomiese hervormings deur die regering versterk
# Suliman Carrim staan vandag tereg op bykomende aanklagte van beweerde motorsmokkelary
# En rugby: Die Bok-flank De Villiers sal weer as kaptein vir die Stormers uitdraf
# President Cyril Ramaphosa sê die Mini-begroting is progressief en daarop gemik om Suid-Afrika se finansies te bestendig, ekonomiese groei te versterk en burgers se probleme aan te spreek. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het die groeivooruitsig vir 2026 verlaag van 1,6-persent tot 1,2-persent, en nog 38,1-miljard-rand se besparing oor die medium termyn geïdentifiseer. Ramaphosa sê die begroting sal bydra dat belangrike ekonomiese hervormings bevorder word:
Die vakverbond COSATU het intussen teleurstelling uitgespreek met die Mini-begroting en sê die regering het ‘n geleentheid misgeloop om streng maatreëls in te stel om Suid-Afrika se maatskaplik-ekonomiese probleme aan te spreek. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het die begroting gister in die Parlement voorgelê. Hy sê die land se skuld is bestendig, en het ook tydelike verligting aangekondig wat die brandstofheffing betref. COSATU-woordvoerder Matthew Parks sê die Tesourie het weer ʼn geleentheid laat verbygaan om ʼn pakket teen werkloosheid, wat tans op 43,8-persent staan, in te dien:
# Die sakeman van Noordwes, Suliman Carrim, verskyn na verwagting vandag in die Musina-landdroshof in Limpopo. Hy staar bykomende aanklagte in die gesig oor vermeende diefstal en geldwassery wat verband hou met twee voertuie wat aan ABSA behoort. Carrim is tans in aanhouding en wag op uitspraak in ʼn borgtogaansoek vir oortreding van die Wet op Kommissies nadat hy versuim het om voor die Madlanga-kommissie te verskyn. Die Nasionale Vervolgingsgesag se streekswoordvoerder in Limpopo, Mashudu Malabi, sê die saak hou verband met ʼn voorval op 22 Julie:
En nuus uit die buiteland:
# Die Kremlin-assistent Yury Ushakov sê Rusland is bereid om driesydige onderhandelings met Amerika en Oekraïne te hervat en op ’n naoorlogse veiligheidsraamwerk te fokus. Dit volg nadat die Russiese president, Vladimir Putin, en president Donald Trump se spesiale gesant, Steve Witkoff, gister in die Russiese stad, St. Petersburg, vergader het. Moskou het maande lank geweier om te onderhandel omdat hy glo hy wen die oorlog. Ushakov sê ’n nuwe rondte samesprekings kan vroeg volgende maand in Abu Dhabi plaasvind.
# Rugby: Die Springbok-flank Paul de Villiers sal Saterdag in Kaapstad weer die Stormers aanvoer in hul kragmeting teen die Scarlets van Wallis in die Verenigde Rugbykampioenskap. Die gereelde kaptein, Ruhan Nel, is steeds langs die kantlyn weens ’n ligte kuitbesering en die swpan is nie haastig om hom terug te bring nie. De Villiers word in die wedstrydgroep van 23 vergesel deur mede-voormalige Junior Springbok-kapteins Riley Norton, Zachary Porthen en Sacha Feinberg-Mngomezulu, terwyl Markus Muller sy eerste verskyning as binnesenter maak. Die afskop op die Kaapstad-stadion is om vieruur.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-38-sent teen die dollar, 18-rand-43-sent teen die euro en 21-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-745-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-106-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 111-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….