Nuus 08:00
BULLETIN 21 Oktober 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê koalisies belemmer dienslewering
# Rand Water gaan help met die waterkrisis in Bronkhorstspruit
# En Zelensky sê die VSA het weer begin om intelligensie te deel
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa sê terwyl dit demokrasie versterk, maak koalisieregerings doeltreffende dienslewering dikwels moeilik vir burgemeesters en munisipale komitees. Ná die 2021 plaaslikeregeringsverkiesing was 66 munisipale rade sonder ‘n volstrekte meerderheid, wat die ANC in verskeie groot metro’s gedwing het tot minderheids-, koalisie- of opposisie-ooreenkomste. Ramaphosa sê die plaaslikeregeringstelsel het ernstige uitdagings, maar sê dit moenie gebruik word om almal in die regering oor dieselfde kan te skeer nie. Hy sê mense begeer goeie regering.
# RISE Mzansi sê na jare se doelgerigte wanbestuur en metodiese korrupsie, is die meeste munisipaliteite op verskillende vlakke van wanfunksionering. Dit sluit metro’s in waar miljoene Suid-Afrikaners woon. Die party het sy bestuursplan vir sewe munisipaliteite bekendgemaak waar hy in November aan die plaaslikeregeringsverkiesing sal deelneem. Dit sluit Johannesburg en Tshwane in. Makashule Gana van RISE Mzansi sê die plan het ses belangrike punte: betroubare infrastruktuur, waardigheid in elke wyk, veilige strate, skoon regering, ruimtelike geregtigheid en ʼn stad wat lewe:
# Tshwane-burgemeester Nasiphi Moya sê sy het Rand Water gevra om tegniese kennis en ondersteuning te deel om die herstel en opgradering van die Bronkhorstspruit-watersuiweringsaanleg te bespoedig. Die metro het drie weke lank water wat nie met chloor behandel is nie aan gemeenskappe verskaf sonder om hulle in te lig dat dit onveilig is. Dit het veroorsaak dat 408 mense maagderm-siektes opgedoen het. Moya sê Rand Water werk aan ʼn installeringsplan om onder meer te bepaal of die aanleg ʼn verdere tydperk gesluit moet word om noodsaaklike werk te doen:
# President Volodymyr Zelensky van Oekraïne sê Amerika deel weer intelligensie met Kiëf wat waarskuwings oor Russiese missielaanvalle betref. Dit volg op gister se ontmoeting in Noorweë tussen Amerika se gesant, Steve Witkoff, en die Finse president Alexander Stubbin. Die ontmoeting het gevolg ná Kiëf se beskuldigings dat Washington belangrike intelligensie weerhou – ʼn bewering wat die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, as “skandalig” verwerp. Zelensky sê die ontmoeting was produktief:
# Tennis: Die wêreld-nommer-nege, Iga Swiatek van Pole, sal nie aan die Ningbo Ope in China deelneem nie. Sy het gehoop om daar noodsaaklike punte in te samel om te kwalifiseer vir die jaareindtoernooi in November. Swiatek, Karolina Muchova van die Tsjeggiese Republiek en Marta Kostyuk van die Oekraïne ding mee om die laaste plek in die jaareindtoernooi in Indian Wells. Swiatek sê sy sukkel steeds met ‘n probleem aan haar linkerdy en het besef sy het tyd nodig om te rus en te herstel. Anastasia Zakharova van Rusland sal haar plek in China inneem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-39-sent teen die dollar, 18-rand-40-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-664-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-119-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 111-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….